Local newsNews

Tiener wil wêreldtitel ten goede van ander gebruik

Sy neem die titel wat sy ontvang het nie ligtelik op nie.

Die titel van Miss Teen World 2023 behoort nou aan ‘n Graad 11 leerder van Hoërskool Die Anker.

Nachalee Creser (17) het onlangs al die pad na Ecuador Guayaquil, Suid-Amerika gereis om mee te ding om die titel.

Tieners van lande van regoor die wêreld het aan die kompetisie deelgeneem. Nachalee vertel dat dit ‘n onvergeetlike ondervinding was en dat daar baie oomblikke was wat sy vir ewig sal koester.

“Die feit dat ons as Suid-Afrikaners meeste van die ander lande se deelnemers nie kon verstaan of met hulle kon kommunikeer nie, maar steeds saam kon lag en dans was vir my baie spesiaal,” het Nachalee vertel.


Die nasionale kostuum wat Nachalee Creser vir die kompetisie gedra het, was asemrowend en trots Suid-Afrikaans.

Uitdagings was daar beslis en Nachalee moes haar tyd fyn beplan om vir die kompetisie voor te berei, sonder om haar skoolwerk af te skeep.

“Voor die kompetisie was ons besig met kwartaal vier se eksamens maar met goeie beplanning en harde werk het alles darem mooi uitgewerk,” het sy vertel.

Sy neem ook nie die titel wat sy ontvang het ligtelik op nie.

“My doelwit vir die jaar, as titelhouer van Miss Teen World, is om ander tieners te help en te motiveer om te glo in wie hulle is en waarvoor hulle staan.


LEES OOK: Life Dalview named best small hospital


“Tieners staar elke dag baie uitdagings en probleme in die gesig, maar ek wil my mede-jeug bemagtig om dapper te wees en nie toe te laat dat enigiemand hulle minderwaardig laat voel nie.”

Oor haar uiterlike skoonheid, wat bygedra het tot haar sukses in die kompetisie is sy ook beskeie.

“Skoonheid is nie wat mense daagliks sien of wat aan die buitekant is nie, dit is hoe mens ‘n persoon van die binnekant leer ken. Skoonheid vir my is iemand wat selfversekerd, nederig en hul outentieke self is.”

Nachalee is ook onlangs aangewys as die hoofdogter van Hoërskool Die Anker vir 2024, ‘n taak waarvoor sy slaggereed is.


Nachalee Creser op die lughawe met haar bagasie.

“Iets waarna ek baie uitsien is om saam my mede leerders en die leiergroep ons gemeenskapsprojekte vir 2024 aan te pak.

“Ek is baie passievol oor liefdadigheidswerk en ek weet dat ek en my groep die grootste sukses sal behaal wanneer ons gaan saam staan om ‘n groot verskil te maak.”

Oor die toekoms na haar matriekjaar het sy ook al besin.

“Oor ‘n paar jaar sien ek myself oorsee werk. Ek wil na matriek ‘n breek of ‘n “gap”-jaar neem en oorsee gaan. My ander doelwit is om my modelloopbaan te bevorder en aan te hou skyn in modelwerk.”


LEES OOK: Konsert ter viering van legendariese operasanger




Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Related Articles

Back to top button