Local newsNews

Egpaar vier 70 geseënde jare

Die Smith-egpaar se paaie het die eerste keer in 1949 gekruis.

‘n Liefde wat in die 1950s begin het, blom steeds en het daartoe gelei dat ‘n egpaar, wat jarelange inwoners van die dorp is, hul 70ste huweliksherdenking (platinum) gevier het.

Nicolaas (Nick, 92) en Annatjie (91) Smith het op 7 November 1953 ewige trou aan mekaar beloof in die NG Kerk, Moedergemeente voor ds CJ Perold, wat die seremonie waargeneem het.

Annatjie onthou nog goed hoe gespanne sy was weens die feit dat die motor waarin sy na die kerk vervoer is, sonder brandstof gaan staan het.

Dit het veroorsaak dat sy so effe laat was vir haar spesiale dag maar Nick het geduldig op sy toekomstige bruid gewag.


Die Smith-egpaar het hul huwelik herbevestig toe hul 50 jaar getroud was.

Hy onthou die heerlike opskop na die tyd in die Brakpan Stadsaal, waar vriende en familie hul huwelik saam met hulle gevier het.

Nick is in Bloemhof gebore waar hy gewoon het tot op die ouderdom van 18 jaar. Hy het hom bekwaam as ‘n rekenmeester en het vir Transnet gewerk.

Annatjie is in Ugie in die Oos-Kaap gebore en het op 12-jare ouderdom saam met haar gesin na Brakpan verhuis. Sy was ‘n tikster van beroep.

Die egpaar se paaie het die eerste keer in 1949 gekruis toe beide op die Langlaagte Spoorwegstasie was.

Nick het haar opgemerk en moes eenvoudig ‘n plan beraam om haar te ontmoet. Vandaar was die koeël deur die kerk.


‘n Troufoto van Nick en Annatjie Smith wat 70 jaar gelede op hul troudag geneem is.

“Ons albei glo ‘n huwelik is ‘n vennootskap tussen twee spesiale mense en ‘n heilige instelling met God aan die stuur,” vertel die egpaar.

Na hul aftrede het hulle dit geniet om plaaslik vakansie te hou maar hulle het ook graag oorsee uitgespan in onder andere Spanje en Mauritius.

Hulle woon tans in die Gold Reef Village Aftree-oord. Nick en Annatjie is nog baie lief vir tuinmaak en geniet dit om mooi blomme te plant.

Die egpaar is geseën met vier kinders, Aileen Mollentze (66), Jurgen Smith (62), Sanet Oosthuizen (60) en Nicolene Kuun (55) asook nege kleinkinders en agt agterkleinkinders.



ALSO READ: Robbery suspect in custody after shooting

ALSO READ: Hek en heining by Tweedy Park herstel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button