Local newsNews

Man pas self noodhulp toe nadat been afgeruk is

Die ongeluk het by die drie-rigting stopstraat op die hoek van Jim Vinningstraat en Lowerweg plaasgevind.

‘n 42-Jarige inwoner van Minnebron het verlede Woensdag na ‘n gru-ongeluk, waarin sy been afgeruk is, self gepoog om die bloeding te stop, voordat mediese hulp opgedaag het.

Ten spyte van Wikus Kroukamp se poging en die mediese hulp wat hy daarna ontvang het, is hy later die aand oorlede.

Sy vrou van die afgelope sewe jaar, Hester (44) het vertel van die benoude oomblikke wat sy beleef het toe haar man haar net na 16:00 gebel het en gesê het dat hy in ‘n ongeluk was en dat sy been af is.

“Ek was op pad van my werkplek na ons huis toe ek die oproep, wat my lewe verander het, geneem het,” het Hester vertel.

Die ongeluk het by die drie-rigting stopstraat op die hoek van Jim Vinningstraat en Lowerweg plaasgevind.

“Ons woon daar naby in Koos Vorsterstraat en ek het ons dogter, Geraldine gebel om te gaan kyk wat aangaan. Sy het by Wikus gebly totdat mediese hulp opgedaag het.”

Die ongeluk het glo plaasgevind toe Wikus, wat op sy motorfiets gery het, by die stopstraat stilgehou het en in die proses was om te draai.

Volgens inligting is hy van die kant af deur ‘n voertuig getref.

“Wikus het van die gimnasium afgekom en was net in ‘n kortbroek en T-hemp geklee,” het Hester vertel.

“Na die ongeluk kon hy nog daarin slaag om sy rugsak oop te maak en sy leer gordel van die denim, wat hy die dag gedra het, af te haal en sy been af te bind in ‘n poging om die bloeding te stop.”

Hy is na die Thambo Memorial Hospitaal in Boksburg vervoer waar hy ongeveer 18:50 oorlede is.

Hester het Donderdag blomme gaan plaas op die plek waar die ongeluk plaasgevind het en was erg ontnugter toe dit ‘n rukkie daarna gesteel is.


Wikus Kroukamp was ‘n gesonde man wat baie tyd in die gimnasium deurgebring het.

“Ek wil graag ‘n houtkruis op die plek gaan oprig, maar as mense kan blomme steel sal hulle seker ook niks daarvan dink om die kruis ook te steel vir vuurmaakhout nie,” het ‘n hartseer Hester gesê.

Volgens haar was Wikus ‘n gimnasium fanatikus wat dit geniet het om gereeld te oefen.

“Indien hy die ongeluk sou oorleef het sou dit vir hom bitter moeilik gewees het om sonder ‘n been oor die weg te kom,” het sy gesê.

Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die drie-rigting kruising wat nie veilig is nie.

“Mense hou eenvoudig nie daar stil nie. Daar sal dringend moet gekyk word na oplossings in die vorm van spoedhobbles of iets wat motoriste sal dwing om stadiger te ry en te stop soos hulle moet.

“Ek en Wikus was mekaar se grootste vriende; ons het dieselfde belangstellings gehad en ek gaan hom bitter baie mis.”

Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie. ‘n Saak van strafbare manslag word deur die SAPD ondersoek.



LEES OOK: Tuckshop robbers kill cashier

LEES OOK: Leachville man assaulted and robbed at home

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button