Local newsNews

Ouers stig fonds vir serebraal gestremde kind

Die 18- maande-oue seuntjie is 'n vriendelike kind maar hy het ook sy af dae.

Toe Liam Swanepoel 18 maande gelede, op 24 Maart onverwags gebore is in die bad van sy ouers se woonstel in Brenthurst, was daar groot kommer toe hy gesukkel het om behoorlik asem te haal.

Die klein seuntjie is dadelik na die hospitaal geneem waar hy suurstof ontvang het en later op ‘n ventilator geplaas is.

Komplikasies het egter daartoe gelei dat Liam se brein nie normaal kon fuksioneer nie.

Dit het die area van sy brein affekteer wat sy beweging beheer. Volgens Liam se ma, Bianca Swanepoel is hy in Augustus met serebrale gestremdheid gediagnoseer.

Hy het ook al ‘n hewige infeksie in die hospitaal beveg. Sy toestand het tot gevolg dat dié klein seuntjie nou maandeliks vir fisioterapie asook spraakterapie gaan.

Hy sukkel ook met ekseem, refluks en ‘n hele lys van allergieë.

“Tog kan hy al baie mooi praat. Hy het eers verlede maand op sy eie begin regop sit,” vertel sy ma Bianca Swanepoel.

Liam kan nog nie self kruip nie en sy ouers wil graag hê dat hy meer gereeld vir terapiesessies gaan om sy vordering te bevoordeel.

“Ons beskik nie oor ‘n mediese fonds nie en ongelukkig is die afsprake wat ‘n mens maandeliks by ‘n staatshospitaal kan kry beperk,” het Bianca verduidelik.

“Ons wil bitter graag vir Liam na ‘n privaat spesialis neem, sodat hy die beste moontlike behandeling kan ontvang vir sy refluks, ekseem en die epileptiese aanvalle wat hy benewens sy serebrale gestremdheid kry.”

Die gesin will ook graag van ‘n privaat terapeut gebruik maak.


LEES OOK: Môrrie verteenwoordig skool by modelkompetisie


Dit sal ‘n heftige sommetjie kos, wat Bianca genoop het om vir Liam ‘n Backabuddy rekening te stig onder die naam ‘Warrior Liam Beating Cerebral Palsy’.

Alle fondse wat hierdeur ingesamel word, gaan direk in die hospitaal en spesialiste se rekenings en nie in die Swanepoel gesin se persoonlike rekenings nie.

“Hy is die vriendelikste kind, glimlag elke dag en kan mooi praat, maar hy het ook baie af dae,” verduidelik Bianca.

“Ons soek net die beste toekoms vir ons wonderwerkie en vegtertjie.”

Die Swanepoel gesin beoog ook om ‘n gelukkige trekking (raffle) te hou om fondse in te samel vir Liam se behandeling, maar hulle benodig nog borge wat bereid is om pryse te skenk.

Enigeen wat belangstel om te help kan vir Bianca by 064 767 8143 kontak.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button