Local newsNews

‘Groot gat’ in Brakpan-Noord eis nog ’n slagoffer

Die styl kante maak dit bykans onmoontlik vir iemand wat daar afval om te keer.

Die massiewe diep gruisgat in Brakpan-Noord wat onder inwoners van die dorp bekend staan as ‘die groot gat’ het nog ’n slagoffer geëis.

Chanell Williams (45) van Brenthurst het Woensdagaand aan haar beserings beswyk nadat sy verlede Sondag in die namiddag in die gat afgeval het.

Volgens Chanell se dogter, Chané Williams (25) was haar ma saam met ’n groepie mense by die gat, toe die grond waarop sy gestaan het meegegee het.

Die massiewe gat, op plekke meer as 70m diep, het ontstaan as gevolg van mynbedrywighede wat in die verlede daar plaasgevind het.

Alhoewel daar pogings aangewend is om dit te beveilig en die publiek weg te hou van ysingwekkende afgronde is daar tog plekke waar ‘n persoon tot teen die rand van die gat kan beweeg.

Dit is ook gedeeltelik met water gevul. Die styl kante maak dit bykans onmoontlik vir iemand wat daar afval om te keer of op ’n manier hul val te stuit.


Chanell Williams (middel) en haar twee dogters, Chané en Chanté.

“Ek is nie heeltemal seker waarom my ma-hulle by die gat was nie. Soos ek verneem het die grond waarop sy gestaan het meegegee, wat veroorsaak het dat sy na onder geval het, het Chané gesê.

Volgens haar was haar broer, Johan (23) en ’n vriend ook daar en kon hulle die erg beseerde Chanelle bereik nadat sy geval het.

“Daar was op dié stadium beurtkrag in die omgewing en dit was ‘n gesukkel om ’n ambulans te ontbied weens die feit dat die sein swak was,” het Chané verduidelik.

Chanell is uiteindelik in ’n bedenklike toestand na die Verre Oos-Randse Hospitaal vervoer.

“Soos ek verstaan, het my ma met haar gesig na onder, op klippe te lande gekom.”

Volgens Chané was haar ma se rug, pelvis en regter enkel gebreek en daar was ’n oop wond aan haar kop.


LEES OOK: Dalpark Ext 1 community rallies together to keep their neighbourhood clean


“Sy het ook bloeding op die brein gehad en het nooit haar bewussyn na die ongeluk herwin nie,” het Chané gesê.

Sy is Woensdagaand ongeveer 8:45 in die hospitaal oorlede. Haar begrafnis vind Donderdag in Boksburg plaas. Sy laat nog ’n dogter Chanté Williams (18) na.

“My ma was ’n goeie mens wat daarvan gehou het om beeldjies en sagte speelgoed te versamel.

“Mense kan omdraai en vinger wys en sê dat hulle nie by die gat moes wees nie, maar dit was ’n ongeluk. Dit het gebeur en nou moet ons berusting vind.”

Hierdie voorval is die tweede tragedie wat hom vanjaar by die gat afspeel.

Die Herald het in April berig hoe ’n man by die gat gesterf het, toe hy gepoog het om ’n tiener wat geval en gegly het, te hulp te snel. (Man sterf by Brakpan “groot gat” toe hy tiener probeer red).

Beide het tot onder in die water geval.

Johan Viviers (40), of Apie soos hy bekend was, is op die toneel oorlede en die tiener het, na ’n operasie aan haar skouer herstel.

Die Brakpan SAPD het die jongste voorval bevestig en ‘n geregtelike doodsondersoek sal sy gang gaan.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Related Articles

Back to top button