Inwoner word 90, herroep lewenspad

Robert Botha deel sy geskiedenis in die dorp en as familie-man.

Rand Collieries inwoner Robert Botha het onlangs sy 90ste verjaarsdag gevier. ‘n Brakpanner in murg en been is hy beslis.

Robert is in Withok gebore, het in Brakpan skool gegaan en het hier getrou met Unetta Botha (84). Hy het nooit uit die dorp verhuis nie.

Robert het ses broers en vier susters gehad en ouderdomsgewys het hy mooi in die middel gepas.

Hy vertel dat hy op skool maar gesukkel het om by te hou met sy broers en susters, maar na skool het hy hard gewerk om vir homself te voorsien.

Selfs toe hy nog op skool was het hy groente op ‘n waentjie, wat hy self gebou het, vir mense van die mark af na hul huise toe gevat.

Hy het ‘n geldjie hiervoor verdien, maar het meeste daarvan vir sy ma gegee.

Lees ook: Koue demp nie Just Wheels se opedag nie

Sy pa is vroeg oorlede aan myntering en daarom moes sy ma na die huishouding omsien.

Die bietjie wat hy vir homself gehou het, het hy gebruik om sy eie skoene en klere mee te koop toe hy klaar gemaak het met skool.

Daarna het hy by verskeie fabrieke en firmas gewerk, waar hy telkens besef het dat hy nie vir homself ‘n goeie toekoms sien nie. Hy het wel sy roeping gevind toe hy begin werk het by die spoorweë, waar hy bevorder is na bobaan tegnikus, en later groepleier.

Hy het ook geleer hoe om hyskrane te beman en te onderhou en was een van baie min tegnikuste wat dit kon doen.

Hy het uiteindelik nes geskop by Afrox waar hy vir 30 jaar gewerk het tot sy aftrede.

Diere lê hom na aan die hart en hy het al skilpaaie, honde, hoenders en ‘n baie stoute kraai aangehou. Tans het hy ‘n klompie honde en hoenders op sy erf.

Hy het sy vrou ontmoet toe hy verby haar en ‘n vriendin gery het en vir hulle toeter geblaas het, waarna sy die kar met klippe gegooi het.

Deesdae is Robert net dankbaar om nog sy gesin by hom te hê, al is sy dogter, skoonseun en kleindogters in Pretoria. Hulle was vir ‘n jaar oorsee wat vir Robert baie moeilik was, maar nou is hulle terug.

Hy het nog ‘n dogter wat enkellopend is.

Hy is baie trots op sy kleindogters, waarvan een ‘n dokter en die ander ‘n grafiese ontwerper is.
Robert is tevrede met die lewe wat hy gelei het, al was daar goed waaroor hy spyt was.

“Ek het al soveel goed gemaak en gedoen. Ek het al vergeet wat dit alles was,” het hy gesê.

“Ek het nog nooit in my lewe ‘n kar ongeluk gehad nie, en ek was my hele lewe in die kerk. Ek het selfs aan die koor en toneel deelgeneem.”

Lees ook: Groep werk hard om dorp skoon te kry

Exit mobile version