Local newsNews

Brenthurst Huis vir Bejaardes benodig ondersteuning

Die huis probeer vir hul inwoners die beste gee, maar met die huidige lewenskoste raak dit moeilik.

Die Brenthurst Huis vir Bejaardes is een van talle tehuise in die dorp wat onder die hoë lewenskoste deurloop.

Die tehuis, wat 24 inwoners in die hoof huis en vyf in die intensiewe sorg huisves, sukkel om kop bo water te hou.
Die intensiewe sorg is nie op dieselfde perseel geleë nie.

“Van die inwoners se kinders laai hulle net af, betaal maandeliks die huur en vergeet van hulle ouers. Hulle kom kuier nie en koop nie eens vir hulle ‘n lekkerny of toiletware nie,” vertel Marietjie Bezuidenhout, die eienaar van die tehuis.

“Ons probeer om vir ons inwoners ordentlike vleis en groente te gee, maar ons begroting is baie knap. Ons moet baie versigtig inkopies doen om die goedkoopste gesonde kos te kry.

“‘n Groot deel van ons begroting wat vir toiletware, doeke en so aan gebruik word, kan beter aangewend word vir kos,” het sy gesê.

Die tehuis het nie ‘n streng ouderdomsperk nie, en sorg tans vir ‘n paar jonger mense ook wat konstante sorg benodig omdat hulle skisofrenie of soortgelyke gesondheidsprobleme het. Daar is huidig ook vier plekke oop in die tehuis.

Die fasiliteit probeer om inwoners hul menswaardigheid toe te laat. Hulle laat die inwoners self eet, skoonmaak en aantrek sover moontlik, sodat hulle nie hulpeloos voel nie.

Die inwoners word ook weekliks bederf met ‘n manikuur en pedikuur en hulle hare word gesny wanneer dit nodig is.

“Ons het maar net ‘n liefde en passie vir ons mense. Ons probeer ons bes en God doen die res,” het Marietjie vertel.


LEES OOK: Types of sexual harassment and where to get help


Al die personeel wat by die tehuis werk is gekwalifiseerde versorgers, en daar is 24 uur mense aan diens om vir die inwoners te sorg.

Die tehuis veg ook hard vir hul inwoners se gesondheidsorg, en sal selfs as ‘n inwoner in die hospitaal opgeneem word vir hulle kos, slaapklere en toiletware neem sodat hulle meer gemaklik is.

Die atmosfeer is huislik en die personeel poog om seker te maak dat die tehuis nie soos ‘n hospitaal voel nie.

Hulle laat selfs klein troeteldiere toe, sodat inwoners nie voel dat hulle van al hul besittings moet afsien wanneer hulle intrek nie.

Die huis het tot dusver goed gefunksioneer sonder ondersteuning, maar met die inflasiekoers en rentekoers raak dit al hoe moeiliker.


LEES OOK: Brakpan polisiestasie se landlyn buite werking


Op dié stadium is daar veral ‘n behoefte aan kos, veral groente en vrugte, maar skenkings van toiletware sal ook baie welkom wees.

Marietjie se man besit ‘n skoonmaakmiddel besigheid, so skoonmaakmiddel-skenkings is nie nodig nie, maar volwasse doeke skenkings sal baie waardeer word.

Diegene wat doeke wil skenk kan by die tehuis inloer om uit te vind watter groottes benodig word.

Kos skenkings kan na die hoofhuis by Claredonstraat 19, Brenthurst geneem word.

Vir meer inligting kontak Marietjie by 083 454 9759.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button