Local newsNews

Inbrekers sluip vir twee ure op erf rond

Die voorval is by die Brakpan SAPD aangemeld.

Twee inbrekers het in die vroeë oggendure van Donderdag vir byna twee ure hul tyd geneem om goedere uit ‘n huis en tuinwoonstel in Brakpan-sentraal te dra.

Die inwoners van die huis en die woonstel was salig onbewus van die booswigte wat op die werf rondgesluip en hul buit weggedra het.

Dié ontstellende ontdekking is eers Donderdagoggend gemaak toe een van die kinders die huishondjie uitgelaat en gesien het dat ‘n buitehek, wat toe moet wees, oopstaan.

Susan Els (31) het aan die Herald gesê die twee inbrekers het al hul steelwerk in ‘n sonkamer/kroeg, wat aan die huis grens, gedoen het en dat hulle genadiglik nie toegang tot die huis kon kry nie.


LEES OOK: Oud-polisieman, Japie Payne oorlede


Haar ouers, wat in die tuinwoonstel bly was nie so gelukkig nie. Die booswigte het toegang tot die woonstel verkry deur ‘n glas skuifdeur en ‘n beursie uit hul slaapkamer geneem.

“Gelukkig het my ouers nie wakker geword nie.

“Die wind het erg gewaai en dit het effe gereën, maar daardie twee het so sag beweeg dat ons absoluut niks gehoor het nie,” het Els vertel.

“Ek was inteendeel daardie tyd van die oggend wakker en ek het absoluut niks gehoor nie,” vertel sy.


LEES OOK: Sukses met eerste probeerslag vir tiener


Els het eers besef dat die indringers baie bedrywig was op hul perseel toe sy Donderdagoggend na die opnames van hul sekuriteitskameras gekyk het.

“Dit is duidelik dat die een man in die sonkamer gebly het om die goed bymekaar te maak en te ontkoppel terwyl die ander een dit bietjie vir bietjie weggedra het.”

“Hy het elke keer vir so paar minute weggebly en dan weer teruggekeer om nog goed te kry.”

Daar is onder andere twee groot luidsprekers, ‘n gasbottel, ‘n drie-plaat gasstoof, ‘n battery en al die vleis in ‘n vrieskas gesteel.

Die gesin se kinders wat in die Laerskool Dalview is se skoolklere is ook gesteel. Ek het al hulle klere gewas en dit was nog in die sonkamer.

Enigiemand wat dalk Dalview skoolklere vir ‘n seun (sewe tot agt jaar) en twee meisies (10 tot 12 jaar) het, om aan die gesin te skenk, kan Els by 081 341 4543 kontak.

Die voorval is by die Brakpan SAPD aangemeld.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Related Articles

Back to top button