Local newsNews

Wêreldkroon wink vir tiener

Oor die kompetisie self kan sy nie uitgepraat raak nie.

’n 17-jarige leerder van Hoërskool Die Anker, Nachalee Creser het Saterdagaand die Miss Teen World South Africa 2023 titel verower.

Die skoonheid gaan nou Suid-Afrika in Oktobermaand verteenwoordig in die Miss Teen World kompetisie, wat in die Dominikaanse Republiek plaasvind.

Die kompetisie het Saterdag in Pretoria plaasgevind en Nachalee het teen 120 ander meisies tussen die ouderdom van 14 tot 20 jaar meegeding.

Sy het Maandag in ‘n onderhoud met die Herald gesê dat alles nog mooi moet insink maar dat sy groot waardering het vir baie mense wat bankvas agter haar gestaan het.

“Selfs van my skool was die ondersteuning oorweldigend.”

Sy vertel ook dat sy tydens die kroning (toe die wenners aangekondig is) baie emosioneel was.

“Die oomblik toe ek as wenner aangekondig is, het ek in trane uitgebars. Soveel dankbaarheid het deur my hart gevloei toe ek besef het dat my harde werk, tyd en passie alles die moeite werd was,” het Nachalee vertel.

Oor die kompetisie self kan sy nie uitgepraat raak nie.

“Dit was ‘n wonderlike ondervinding. Die deelnemers het mekaar ondersteun. Ons het saam agter die verhoog gesing en gedans voor alles begin het. Ons was soos ‘n hegte familie.”

Tog was dit ook ‘n groot uitdaging waarvoor sy alles in die stryd gewerp het.


Die beeldskone tiener het in 2019 met modelwerk begin.

“Ek sal met alle eerlikheid sê dat die moeilikste vir my was om my kop en my hart reg te kry.

“My geestesgesondheid was my grootste fokus omrede hierdie ‘n baie ingewikkelde industrie is en jy altyd moet seker maak dat jy na jouself omsien.

“Ek het myself gereeld herinner aan my waardes en soos altyd op die Here vertrou.”

Nachalee het in 2019 met modelwerk begin toe sy by die Younique Modelagentskap aangesluit het.

Sy kan nie eens onthou hoeveel kompetisies sy sedertdien gewen het nie maar daar is vele krone in haar versameling.



Van die mees onlangse kompetisies wat sy gewen het was: Miss Winter Glamour, Face of Spring Beauty, Miss Royalty Destine, Miss Star of Alberton, Miss Beach Body, Miss Glitz and Glam, Miss Supreme Fire, Miss Pure Heart en Senior Overall Younique Model Award.

Wanneer sy nie op die loopplank is nie geniet sy dit om redenaars en public speaking te doen en hou sy ook daarvan om te dans en netbal te speel.

Skoolwerk en akademie is egter vir haar ‘n prioriteit wat nie afgeskeep word nie.

“Ek dink dit is baie belangrik om tydsbestuur, in alles wat jy aanpak, te implementeer.

“Ek hou daarvan om altyd besig te wees en aan verskillende aktiwiteite deel te neem, maar wat dit moeilik maak is om by alles uit te kom en tyd te maak vir die dinge waarvan ek hou.


LEES OOK: Youth-owned enterprises invited: stand a chance to win a trip to India


“Ek skeep beslis nie my skoolwerk af nie en presteer baie goed op akademiese vlak en probeer altyd om die beste te gee in my skoolwerk,” het sy vertel.

Nachalee se ouers Natasha en Donovan asook haar stiefpa, Leon Erasmus en ouer broer Dawerin (20) ondersteun haar in alles wat sy doen en die jong skoonheid het die grootse lof vir al hul ondersteuning.

“My modelafrigter, Cecilia van Eeden en my grimeerkunstenaar Leoni van der Walt verdien beslis ‘n baie groot dankie van my kant af.”

“Die organiseerder van World South Africa Pageants/ Miss Teen World South Africa, Kaylan Hamel, het ‘n fantastiese kompetisie aangebied en vir baie jong meisies ‘n onvergeetlike ervaring laat beleef,” het Nachalee gesê.

“Die kompetisie sal my altyd bybly en ek sien uit na die kompetisie in Oktobermaand.”



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Related Articles

Back to top button