Dief steel man se mobiliteit-bromponie

Johan Aspeling sal nou veel minder werk kan verrig.

‘n 60-Jarige inwoner van Queenlaan, wie se been verlede jaar geamputeer is, sit nou gestrand nadat sy mobiliteit-bromponie Sondagaand voor sy huis gesteel is.

Johan Aspeling was van die bromponie afhanklik om te beweeg en moet nou sukkel om met ‘n rolstoel oor die weg te kom.

Sy vrou, Elizabeth (60) vertel die bromponie het Sondagaand voor hul huis gestaan toe iemand dit binne ‘n oogwenk gesteel het.

“Ek het ongeveer 18:00 in die sitkamer gesit en kon die bromponie sien waar dit by die trappe gestaan het.

“My plan was om dit in die huis te bring maar ek het eers ‘n trui gaan aantrek. Toe ek terugkeer was dit weg,” het sy gesê.

Volgens Elizabeth is Johan, wat ‘n diabeet is, se been verlede jaar in Oktober geamputeer.

“Johan het depressief geraak na die amputasie aangesien hy nie meer vrylik kon rondbeweeg nie en ook nie meer werk kon verrig nie,” het sy vertel.

Johan het nadat hy ‘n paar jaar gelede afgelê is van sy werk, vir homself ‘n inkomste begin genereer deur onder andere aan voertuie te werk.

“Met die bromponie was dit vir hom moontlik om die werk te volhou maar nou is dit ‘n probleem,” het Elizabeth verduidelik.

Hy het ook die bromponie gebruik om na die winkels te gaan en dit was vir sy kleinkinders baie lekker om saam hulle oupa te ry.


Johan Aspeling was afhanklik van sy mobiliteit-bromponie om steeds te werk en om sodoende ‘n inkomste te verdien.

“Dit was meer as net ‘n vervoermiddel. Dit het vir hom die vryheid gegee om dinge om sy eie te kon doen. Die bromponie was nie verseker nie en dit is nie vir ons moontlik om dit te vervang nie.”

Sy het ook vertel dat dit die tweede onaangename voorval is wat hulle die afgelope tyd getref het.

“Sowat drie weke gelede het ‘n vreemde vrou by ons huis aangekom en daarop aangedring om met my en ‘n bouer, wat op die perseel besig was om te bou, te praat.

“Toe ek weer sien was daar nog twee vroue by haar en hulle het alles in hul vermoë gedoen om my van die huis af weg te kry.


LEES OOK: Susan Andrew elected as the president of Womens Golf South Africa


“Iemand moes op ‘n stadium daarin geslaag het om in ons huis, wat ons met ons kinders deel, te gaan om twee skootrekenaars te steel.

“Vir die skootrekenaars was daar darem versekering en ons kon dit vervang maar ongelukkig is dit nie die geval met die bromponie nie.

“Iemand gaan dit waarskynlik verkoop om ‘n paar rand te kry en intussen kan my man nie voortgaan om sy werk te doen om geld te verdien nie,” het Elizabeth gesê.

Die bromponie is rooi en enigiemand met inligting kan die Brakpan SAPD by 011 744 7100 skakel.




Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Exit mobile version