News

Skoolhoof se bloed is blou

Stefan Killian het 'n lang verbintenis met die skool en meen sy bloed is blou.

Stefan Killian (41), wat vir 13 maande die waarnemende hoof van Hoërskool Die Anker was, is op 1 April amptelik aangestel as die hoof van die skool. Die Herald het met hom gesels.

Hoe lank is jy al by Die Anker?
Ek was leerder van HTS Brakpan (nou Hoërskool Die Anker) van Graad Agt tot 12. Daarna het ek by die NWU studeer en in 2005 as ‘n onderwyser na HTS Brakpan teruggekeer.

In 2006 het HTS Brakpan en Hoogland saamgesmelt en Die Anker het ontstaan. Ek het intussen adjunkhoof geword en nou is ek skoolhoof. My bloed bly blou.

Hoe sien jy die pad vorentoe by Die Anker?
Om voort te bou op die fondasies wat gelê is deur die vorige hoofde en die skool die toekoms in te dra met ‘n positiewe houding, sodat ons van krag tot krag kan groei en suksesvol sal wees.

Ons mikpunt by Die Anker is om gebalanseerde, gelukkige kinders, geanker in geloof, die grootmenswêreld in te stuur is. Ons beoog om aan te hou bou op die goeie uitslae wat ons jaarliks ontvang.

Waar woon jy?
Ek het my hele lewe in Brakpan gewoon en grootgeword, maar die afgelope vyf jaar woon ek in Boksburg.

Vertel meer van jou gesin?
Ek en my vrou, René (40) is 15 jaar getroud. SJ Kilian word in Junie verwag. Hierdie wonderwerk-seuntjie, waarmee God ons seën, sal ons eerste kind wees.

Stokperdjies wanneer jy nie hoof is nie?
Tyd saam met my vrou en my honde kalmeer my altyd. Ek geniet ook goeie rugbywedstryd en doen Crossfit om fiks te bly.

Waarvoor is jy dankbaar?
Ek is dankbaar vir almal wat in my glo en my vertrou met die verantwoordelikheid om die hoof te wees van een van die mees dinamiese hoërskole aan die Oos-Rand.

Dit is voorwaar ‘n eer. Ek hoop om julle almal trots te maak. Kom groet gerus op ons inligtingsaand vir die Graad Sewes op 24 en 25 April om 18:00.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button