Dr Johan van Rensburg van AGS Betesda tree uit

Die kerk is die oudste gemeente in die Oos-Rand streek.

Dr Johan van Rensburg en sy vrou Elna, die 14de presiderende herderspaar van die AGS Kerk Betesda Gemeente, groet op 19 Februarie die gemeente.

Van Rensburg tree na 12 en ‘n halwe jaar uit by sy gemeente en ook as die AGS Oos-Rand streekvoorsitter.

Die egpaar gaan na die Kaap verhuis, waar hulle familie woon.

Die besluit was volgens van Rensburg nie ‘n skielike een nie, maar omdat hy besef het dat hy nie weet hoeveel tyd hy nog het op aarde nie, wil hy die res daarvan met sy vrou spandeer.

Hy gaan wel nie net stilsit nie. Hy het onlangs ‘n boek in Afrikaans en Engels geskryf en hoop om dit uit te gee.

Hy wil ook werk aan nog ‘n boek met die titel The Flipside of Faith waarin hy praat oor die struikelblokke in die bediening en die dinge wat leraars ondervind en wat mense nie noodwendig weet nie.


LEES OOK: Everything you need to know about head lice


Hy wil ook ‘n familie-beradingskantoor op die been bring en werk aan ‘n program waar pastore en predikante, wat uitgebrand of depressief voel, drie weke kan deurbring om te herstel en ook hanteringsmeganismes kan aanleer.

“Een van hierdie meganismes is om nee te kan sê. Dit is iets waarmee baie predikers sukkel,” verduidelik van Rensburg.

Hy vertel hy baie daaroor gedink het om eendag ‘n huisie by die see te hê en ‘n rustiger lewe met sy vrou te geniet.

Toe hoor hy die gesegde, ‘eendag, of dag een?’

Hy het besluit om sy dag een te kies om sy eendag-drome uit te leef , daarom die besluit om uit te tree.
Iets wat hom altyd sal bybly van die gemeente is die respek wat hulle vir die gemeente se historiese waarde het.

Die kerk, tans 109 jaar oud, is die oudste gemeente in die Oos-Rand streek en baie gemeentes in die streek is daaruit op die been gebring.


LEES OOK: What to do while waiting for a transfer to go through


“Tydens al daardie tyd het hierdie gemeente net 14 pastore gehad, wat beteken dat die gemeente nog altyd goed was vir die pastore.”

Van die hoogtepunte van van Rensburg se tyd by die gemeente is dat hy vir baie jare, op Dinsdae en Donderdae, op Radio Oos-Rand (Ekurhuleni FM 93.9) gehoor kon word.

Hy was ook baie betrokke by bejaardesorg en is baie dankbaar vir die geleentheid wat sy bediening hom gebied het om mense te leer ken.

Nog ‘n hoogtepunt vir hom was om twee kerke te bou vir twee gemeentes, selfs al het hy nie baie talent in die boubedryf nie.

Hy glo God het hom die wysheid en verstand gegee om dit buite sy vermoë te doen. Hy het ook ‘n babahuis vir weggooi babas begin in Louis Trichardt wat sedertdien gesluit het.

Laagtepunte is baie, want van Rensburg moes baie dood en tragedie deurstaan as pastoor deur begrafnisse en bystand aan naasbestaandes. Dít was vir hom die moeilikste deel van sy bediening.


LEES OOK: Far East Rand Hospital’s matron retires after a decade of service 


Iets wat hom altyd sal bybly is dat een van sy ouderlinge, Henry Till, wat altyd bystand gebied het in hospitale en ouetehuise, gedurende die Covid-19 tydperk oorlede is. Hy was in die hospitaal, waar niemand hom kon bystaan soos wat hy vir vele ander gedoen het nie.

Nog ‘n laagtepunt vir van Rensburg is dat hy ‘n tehuis wou begin vir mense wat op die straat bly waar hulle gesondheidsorg, kos en blyplek kon kry, maar hy het geen sukses by die munisipaliteit gehad nie.

Verder is van Rensburg ook baie bekommerd oor soveel kerke wat moet sluit omdat daar nie genoeg lidmate is nie.

Dis vir hom bitter hartseer dat kerke verkoop moet word en dan omskep word in iets soos ‘n boksklub of oefensaal – iets waarvoor dit nie bedoel is nie.

Volgens hom is die probleem dat mense kerkloos raak. “Mense is te krities teenoor leraars en wissel van kerk tot kerk in plaas daarvan om by een kerk te bly en probleme te help oplos,” sê hy.

Sy boodskap wat hy aan sy gemeente wil laat is dat liefde ‘n daad is en nie ‘n gevoel nie.

“Dit vereis onder andere lojaliteit, getrouheid, gehoorsaamheid en positiwiteit. Die liefde as ‘n daad moet ‘n prioriteit wees in ons verhouding met die Here en met mekaar,” vertel hy.

Hy is van mening dat die wêreld ‘n beter plek sal wees as almal liefde uitleef. Op die oomblik is die AGS Betesda gemeente op soek na hul volgende pastoor.

Aansoekers gaan genooi word om te preek en ‘n onderhoud te doen en daardeur gaan hulle die volgende pastoor aanstel.

Intussen sal alle gewone kerkfunksies soos normaal voortgaan. Vir troues en begrafnisse is daar voorsiening gemaak.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Exit mobile version