Local newsNews

Vermiste vadoek verkoper oorlede

Tina van Rooyen wil graag vir haar seun ‘n begrafnis hou maar kan dit nie bekostig nie.

Hendrik Vosloo (61) of te wel die Vadoek-oom soos hy alom bekend was in die dorp, is oorlede.

Sy liggaam is Vrydagmiddag in ‘n area naby die hoek van Endstraat en Gardinerlaan gevind nadat hy sedert 2 Januarie vermis was.

Die SAPD kon nog nie teen druktyd nie die presiese oorsaak van sy dood bevestig nie.

Hendrik se ma, Tina van Rooyen (83), het Maandag aan die Herald vertel dat sy steeds nie kan glo dat haar seun, wat by haar in ‘n woonstel op haar erf in Kingswaylaan gewoon het, oorlede is nie.

“Ons was baie bekommerd toe hy vermis geraak het want dit was nie sy geaardheid om net weg te bly nie en ek het vir geen oomblik gedink dat ek my seun nie weer lewendig sal sien nie,” het ‘n hartseer Tina vertel.

Volgens haar het sy vir Hendrik die laaste keer op 2 Januarie gesien.

“Hy is vroeg die oggend by die huis weg. Hy het ‘n bietjie koffie en suiker geneem en gesê hy gaan sy vriende wat naby ons woon, besoek.

“Toe hy nie terug gekeer het na sy blyplek nie was ek effe bekommerd maar ek het aangeneem dat hy dalk besluit he om by die mense oor te slaap.”

Volgens Tina het sy die volgende dag haar ouderdomspensioen gaan onttrek en was dit vir haar vreemd dat Hendrik nog nie na vore gekom het nie aangesien hy normaalweg ook sy pensioen sou trek en vir haar ’n paar rand sou gee vir sy blyplek.

“Ons het besluit om ’n saak by die SAPD te gaan open,” het Tina vertel.

‘n Ondersoek is begin, wat Vrydag geëindig het toe Vosloo se liggaam ontdek is. Inwoners van die dorp en selfs omliggende dorpe het Hendrik geken as die Vadoek-oom.


LEES OOK: Ma dink sy kry een kind, toe is dit ‘n tweeling


Hy het vir jare lank elke dag ‘n hoop vadoeke in die mandjie voor op sy fiets gelaai en die vadoeke vir ‘n inkomste verkoop.

“My kind het hard gewerk hy het selfs na Springs en Boksburg gery om vadoeke te verkoop. So het hy baie mense leer ken. Sy fiets, wat hy soos goud opgepas het, was sy enigste vervoermiddel en sy trots,” het sy ma vertel.

“Hy het beter na sy fiets gekyk as wat sommige mense na hul voertuie kyk. Hy het dit nou die dag selfs by die karwas-plek laat was want hy wou sy fiets ekstra skoon gehad het,” het Tina vertel.

Volgens haar het hy die dag van sy verdwyning gestap en het hy sy fiets by die huis agter gelaat.


LEES OOK: Community demands justice for hit-and-run victim


“Al wat ek nou van hom oor het is sy fiets,” het sy bewoë gesê.

“As ouer was ek altyd bekommerd oor hom wanneer hy op die pad was met sy fiets. My grootste vrees was dat hy op die pad raakgery sou word.”

Tina het aangedui dat sy dit nie kan bekostig om haar seun te begrawe nie.

“Ek wil baie graag vir my seun op ‘n mooi manier groet.”

Enigiemand wat moontlik kan help kan vir Tina se vriend, Gert, by 063 503 8200 kontak (Tina se gehoor is van so ‘n aard dat sy nie ‘n foongesprek goed kan volg nie).


Related Articles

Back to top button