Local newsNews

Gloeiende oë loer uit dié tuin vir jou

Hans se nuutste projek is om plek te maak vir ‘n ou klavier in die tuin.

Die tuin van Hans en Rita Schoeman se woning, in Stoffberglaan, is alles behalwe ‘n gewone tuin.

‘n Standbeeld van ‘n reuse wit perd troon oor hul 1.8meter hoë muur, ‘n lewensgrootte Spiderman is op ‘n afdak staangemaak en verskeie ander ‘karakters’ in die tuin laat motoriste rem aanslaan en verbygangers twee keer kyk.

Dit is veral saans in die pikdonker wanneer die tuin ‘n besondere gevoel het, danksy helder liggies wat uit die perd, ‘n bok en mannekyne se oë skyn. Hans en Rita lag lekker oor die vreemde gedoentes in hul tuin.

Die perd, wat oor die muur na die straat kyk, het eerste staanplek gekry en toe het Hans besluit om ligte in die plek, waar die oë is, te installeer. Die liggies is bedags en saans sigbaar.

Toe die egpaar ‘n ruk gelede ‘n stoorfasiliteit van ‘n onderneming gaan skoonmaak het, het hulle op die Spiderman afgekom en ook ‘n paar mannekyne, wat gebruik is om klere te vertoon.


LEES OOK: Prayers aim to uplift police’s spirit in Evander


‘n Groot manlike mannekyn het voor in die tuin plek gekry en Hans het besluit dat dit ook liggie-oë moet kry.

“Die ou dien eintlik as ons sekuriteit want met die gloeiende oë en hamer in die hand kan dit nogal saans intimiderend lyk,” vertel Hans.

Daar is ook ‘n beeld van ‘n bok wat helder rooi liggie-oë het. Hans se nuutste projek is om plek te maak vir ‘n ou klavier in die tuin.

“Ek gaan die klavier ook belig en dit sal ook musiek speel,” vertel Hans.

“Die lewe is ernstig genoeg. So bietjie pret en lighartigheid het niemand nog skade aangedoen nie,” het Rita gesê.

Hans het ‘n sonkrag-paneeltjie geïnstalleer wat sorg dat die gloeiende oë bedags maar ook na donker vanuit alle hoeke in sy tuin sigbaar is.


LEES OOK: Jeugpastoor maak tyd vir oefening onder die jongklomp op Standerton


Related Articles

Back to top button