Broers en pa ewe tuis op die renbaan

Jayten en Jarin Datnow maak saam 'n gedugte span op die baan.

Die broers Jayten (15) en Jarin (17) Datnow van Sonneveld Akademie verstom toeskouers waar ook al hulle deelneem aan Australiese syspan motorfiets wedrenne.

Dié sportsoort, wat nie so bekend is nie, is opwindend maar terselfdertyd ook gevaarlik aangesien die motorfietse nie remme het nie.

Die motorfietse het ook net drie wiele en kan slegs regs draai met die hulp van ’n jokkie wat agter die bestuurder sit.

Alhoewel die bestuurder van die motorfiets volle beheer oor die fiets het, vertolk die jokkie ’n uiters belangrike rol.

Die jokkie beheer die motorfiets deur in ’n draai af te gly en dus met sy gewig te veroorsaak dat die motorfiets draai.


LEES OOK: Wen R2000 met jou Kersfoto


Die wedrenne vind om ‘n ovaal grondbaan plaas, en in die reguit gedeeltes kan die motorfietse tot 120 kilometer per huur ry. Die motorfietse is kragtig, met enjins van 1000 cc of meer.

Jayten neem die afgelope vier jaar aan die sport deel en sy ouer broer Jarin het sowat ‘n jaar gelede begin met deelname.

Jayten is die bestuurder in hulle span, terwyl Jarin vir hom jokkie. Die twee se pa, Jason Datnow (46) ry ook, en tot onlangs was Kyle van Dyk sy jokkie gewees.

Volgens Jason is daar min syspan spanne in Suid Afrika, waarvan Jayten en Jarin die jongste is.

Hy reken hulle is moontlik die enigste span in die wêreld wat onder die ouderdom van 18 jaar teen volwassenes meeding.


LEES OOK: Sonneveld Akademie kondig nuwe leerlingraad aan


Die pa en seuns neem gereeld aan wedrenne deel in onder andere Bloemfontein, Kroonstad, Rustenburg, Randfontein en Boshoff.

Volgens Jason is die sport onbeskryflik.

“Dit is net iets wat jy gaan moet beleef by ‘n baan,” sê hy. Al is dit ‘n klein sport, is dit blykbaar ‘n baie gewild onder toeskouers,” vertel Jason.

Die seuns se ma, Karin (42), ondersteun hulle met elke resies al is dit moeilik vir haar omdat dit so onveilig is.

Jayten en Jarin hou ook goed by die spoed wat opgestel is deur die veelmalige Suid-Afrikaanse kampioen, Alfie Kotze (61), wat nou afgetree is.

Wanneer die twee broers nie besig is op die renbaan nie geniet hulle vele ander stokperdjies en aktiwiteite.

Jayten ry ook veldfiets en werk self aan sy motorfietse. Hy wil eendag graag ‘n boer word. Jarin speel dromme en kitaar vir die AGS Brakpan-Wes Kerk en ry graag skaatsplank.

Beide die broers is ook baie bedrewe op hul BMX fietse.

Hul waaghalsigheid kry soms die oorhand, veral wanneer hulle ‘n wedren gewen het en dit dan gevier word met `donuts’ op die baan.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version