Ondersteun geselligheid om viervoetiges te help

SPOT hou 'n liefdadigheidsbal om fondse in te samel om troeteldiere te help.

Die SPOT Troeteldier Uitreik-span hou op 2 Desember ‘n liefdadigheidsbal om fondse vir hul viervoetige vriende in te samel.

Die fondsinsameling vind vanaf 17:30 by Medley House in Larkstraat, Anzac, plaas en beloof om ‘n genotvolle aand te wees.

Organiseerder en stigter van SPOT (Sunny’s Pet Outreach Team), Sanette Bosman (39) en haar seun, Brandon (17), help die gemeenskap om verantwoordelike diere eienaars te wees.

Hulle verskaf ondersteuning en opvoeding aan diere eienaars en help waar moontlik met sterilisasies, beskutting vir die diere, kos, en ander benodighede.


LEES OOK: How to create a pet-friendly garden


In gevalle waar dieremishandeling voorkom, word dit aan die DBV gerapporteer.

“Ons beoog om die fondse wat ons met die liefdadigheidsbal in te samel aan te wend om toerusting aan te koop wat onder andere vanghokke, vervoerhokke, hardloopkettings en boumateriaal vir hondehokke insluit,” het Sanette verduidelik.

Die ma-en-seun-span reik uit na diere eienaars en wanner hulle hulp verleen, is daar opvolgsessies om seker te maak dat die dier se lewensgehalte verbeter het. Indien verdere bystand benodig word, huiwer Sanette en Brandon nooit nie.

Die organisasie sukkel veral met vervoer aangesien Sanette net ‘n klein Ford Fiesta bestuur, wat die vervoer van diere bemoeilik.


LEES OOK: Is your furbaby overweight? The answer is most probably, yes


“Ons hoop om in die toekoms ‘n klein bakkie aan te skaf sodat ons die diere beter kan vervoer. Ons het ook geen hokke om die diere aan te hou totdat hulle aangeneem kan word nie,” het sy verduidelik.

Sanette, wat ‘n groot passie vir diere het doen die uitreikingswerk in haar vrye tyd, aangesien sy in ‘n voltydse beroep is.

“SPOT is nog in sy kinderskoene aangesien ons eers in Junie 2022 ontstaan het. Ons hoop om te groei en Brakpan ‘n veilige plek vir alle troeteldiere te maak,” het Sanette gesê.

Dié diereliefhebber het ‘n baie spesiale boodskap aan die gemeenskap, “Moet nie ‘n blinde oog draai as jy ‘n dier in nood sien nie.”

Persone wat kaartjie vir die liefdadigheidsbal wil koop kan vir Sanette by 072 689 1767 kontak.


Exit mobile version