Local newsNews

Klein vegter kry haar engelvlerkies

Haar ouers het vier jaar gesukkel om kinders te kry en Zanicka se geboorte het vir groot opwinding en vreugde gesorg.

‘n Ouerpaar van Anzac wie se baba op 23 Augustus met Hipoplastiese linkerhartsindroom (HLHS) gebore is, is platgeslaan nadat sy Maandagoggend in die Netcare Sunninghill Hospitaal oorlede is.

HLHS is ‘n seldsame maar ernstige geboorte defek, waar die linkerkant van ‘n kind se hart onderontwikkel is.

Zandra (23) en Jeandré Reynecke (29) was die afgelope tyd nog besig om ‘n fondsinsameling vir hul baba, Zanicka te reël, wat op 4 Desember sou plaasvind.

“Nou is ons besig om begrafnisreëlings te tref,” het Jeandré gesê.

“Die fondsinsameling sou ten bate van ons huidige en toekomstige mediese uitgawes gewees het,” het Jeandré verduidelik.

“Ons gaan daarmee voort maar dit sal nou ter nagedagtenis aan Zanicka plaasvind.

“Ons beskik wel oor ‘n mediese fonds maar daar is enorme uitgawes wat nie gedek is nie en wat nog betaal moet word.”

Haar ouers het vier jaar gesukkel om kinders te kry en na twee miskrame het die koms van Zanicka vir groot opwinding en vreugde gesorg.

Sy is kort na haar geboorte met die HLHS- sindroom gediagnoseer.

Zanicka het op die 1 September haar eerste operasie gehad wat goed verloop het.

Tog was dit vir haar ouers ‘n massiewe skok toe hulle hul kind vir die eerste keer na die operasie sien. Volgens Jeandré het dit gevoel of hy iets baie wreed aanskou.

“Nou nog kry ek nagmerries oor hoe ek my kind daardie dag gesien het,” vertel Jeandré.

Tog het sy die beste sorg gehad en het dit onder omstandighede goed gegaan met haar.

Zanicka was vier en ‘n half weke oud voor haar ouers haar vir die eerste keer weer kon vashou en voer.

Na vyf weke was Zanicka sterk genoeg om huis toe te gaan, maar moes sy nog op suurstof wees en deurentyd gemonitor word.

Die ouerpaar het bitter min geslaap en het beurte gemaak om 24 uur per dag, saam met haar twee oumas Angelique Barnard en Meri Smith na haar om te sien.

Na ietwat van ‘n terugslag is sy kort daarna weer opgeneem en in die hospitaal behandel vir ‘n week waarna sy weer huis toe kon gaan.

“Ons het rustig begin raak in die paar weke daarna en het gevoel of ons Zanicka weer soos ‘n normale baba kon hanteer,” het Jeandré vertel.


LEES OOK: Weekend crime round-up


Hul kommer het weer begin toe sy na ‘n roetine ondersoek op 1 November ‘n tweede noodoperasie moes ondergaan. Daarna het daar ook ‘n kleiner prosedure gevolg en masjiene is gebruik om Zanicka se hart te help reg werk.

“Ons kind het aanhou veg tot Maandagoggend toe. Toe het sy haar engelvlerkies gekry. Ons het haar liggaampie vasgehou. Dit was die moeilikste om haar vas te hou met die wete dat ons haar nie weer sal sien nie.”

Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.

Die fondsinsameling waar die kort lewe van Zanicka Reynecke gevier sal word, word op 4 Desember deur Brakpan 4 Brakpan by Cosy Corner in Brenthurst gehou.

Fondse wat ingesamel word sal gebruik word om uitstaande mediese onkostes te betaal. Die toegang is verniet. Persone wat stalletjies wil bespreek kan vir Belinda Coetzer by 076 167 4328 kontak.


LEES OOK: Cash-in-transit guard robbed of cash, gun


Related Articles

Back to top button