Nantus is Anker van die Jaar

Die hoofseun van Hoërskool die Anker het gedurende die jaar ook sy twee voortande verloor.

Nantus Joubert (18) het vanjaar die top toekenning van Hoërskool Die Anker, naamlik Anker van die Jaar, tydens die skool se onlangse prysuitdeling ontvang.

Nantus, die hoofseun vir 2022, woon saam met sy ouers Pierre (49) en Ninette (49) en sy jonger suster Krizé (15) in Rynfield.

Die Herald met hom gesels oor dié spesiale toekenning en wat die laaste jaar van sy skoolloopbaan vir hom ingehou het.

• Jy is aangewys as die Anker van die Jaar. Wat beteken dit vir jou?
Dit is voorwaar ’n groot eer en voorreg. Vanaf Graad Agt het ek altyd opgekyk na Die Anker van die Jaar. My strewe was om ook soos my voorgangers ‘n voorbeeld vir die res van die skool te wees. Ek glo ek het ‘n voorbeeld gestel vir my mede skoliere.

• Jy het op verskeie vlakke uitgeblink die afgelope jaar. Het jy enige ander toekennings ontvang?
Ek het die leier van die jaar asook atletiekseun van die jaar ingepalm. Ek is ook aangewys as senior victor ludorum by die skool, sowel as by die Gauteng Kampioenskappe te Germiston.

• As jy terugkyk op jou matriekjaar wat sou jy as ’n hoogtepunt uitsonder?
Om na twee jaar van afsondering weer te kon terugkeer na die gewone normaal en met jou vriende te kan praat sonder maskers en om elke dag weer in die klasse te kon wees. Om sport en ander aktiwiteite met toeskouers ten volle te geniet.

• Was daar ’n laagtepunt gedurende die jaar?
Die dag toe ons PUK-finaal teen Rustenburg in Potchefstroom rugby gespeel het en ek my twee voortande verloor het in ‘n crashball.

• Hoe gaan dit met die jou finale eksamen?
Ek het vooraf elke dag voorbereiding en hersiening gedoen. Ek werk ou vraestelle deur en wanneer ek vashaak, gaan vra ek ons bekwame onderwyser/s by die skool vir hulp.

• Wat gaan jy volgende jaar doen?
Ek gaan sportwetenskap by Tukkies swot.

• Wat het vir jou uitgestaan van jou matriekafskeidfunksie?
Die opgewondenheid en spontaniteit onder die leerders. As gevolg van Covid was hierdie funksies ons nie die vorige jare beskore nie; die leerders het dit voorwaar geniet. Die kos en dansery was ook ‘n hoogtepunt van die aand.

• Indien jy die geleentheid kry, sou jy Suid-Afrika verlaat om permanent in ’n ander land te gaan woon?
Ek sal my land definitief mis, maar ja. As so ‘n geleentheid my te beurt val, sal ek beslis gaan.

• Wat sal jou raad wees aan Graad 11-leerders wat volgende jaar matriek aandurf?
Hou jou voete op die grond, glo in jouself, bly nederig en vertrou op God.

• Waarsonder kan jy nie klaarkom nie?
My God.



ALSO READ: Merafong Darts Association hosts tournament

ALSO READ: Laerskool Dalview se akademiese presteerders aangekondig

Exit mobile version