Local newsNews

Sterstatus sorg vir onvergeetlike ondervinding

Lynette Vandermaelen hou daarvan om projekte aan te pak en produktief te bly.

Sunair Park inwoner, Lynnette Vandermaelen (32) het vanaf Maart tot Oktober aan die gewilde Sterstatus uitdaging deelgeneem en aan die einde daarvan met ‘n titel weggestap.

Lynette is tydens die kroning gala geleentheid aangewys as die “behind-the-scenes-”titelhouer.
Dit is die eerste keer in die reeks dat so ‘n titel aangekondig is.

Oor dié ondervinding en die titel, wat na haar kant gekom het, kan Lynette nie uitgepraat raak nie.

“Sterstatus staan vir vroue bemagtiging en daar word gefokus om vrouens te help om die vermaaklikheidsbedryf te betree.

Deelnemers word opgelei en in staat gestel om die bedryf gemaklik te betree en daarvan ‘n sukses te maak,” vertel Lynette.

“Die vermaaklikheidsbedryf gaan egter nie net oor die akteurs, sangers, aanbieders en modelle nie.

“Ons het gou geleer dat ‘n groot deel daarvan agter die skerms gebeur. Daar is die beplanning, redigering, skryf van episodes of films en die samewerking van die produksiespan om in ag te neem.

“My passie lê agter die kamera; spesifiek om te skryf en te redigeer en daarom is dit vir my ‘n groot voorreg om die eerste ontvanger te wees van hierdie titel,” vertel Lynette.

Daar was vir haar vele hoogtepunte tydens haar deelname aan Sterstatus.

“Die hoeveelheid wat ons geleer het met elke mentorsessie en die fantastiese borge sal my altyd bybly. Die vroue wat aan hierdie reeks deelgeneem het, het ongelooflike bande met mekaar gebou,” vertel Lynette.

Die enigste laagtepunt vir haar was toe sy die oggend van die galageleentheid opgestaan het en besef het dat haar Sterstatus-reis van 2022 tot ‘n einde gekom het.


LEES OOK: Panic ensues amid petition to ban Pitbulls as pets


“Tog was ek vinnig weer gerus gestel toe ek aangekondig is as ‘n titelhouer. Dit beteken dat my reis sal voortduur in 2023 wanneer ek Seisoen 5 se deelnemers kan mentor en bystaan waar nodig.”

Lynette, wat die verhuring afdeling by ‘n eiendomsagentskap bestuur, vertel sy hou daarvan om projekte aan te pak en produktief te bly.

Sy sal ook ander vroue aanraai om aan Sterstatus deel te neem.

“Dit nie ‘n skoonheidskompetisie nie. Dit is platform vir vroue bemagtiging en ‘n mens leer soveel van jouself dat jy in die proses soort van vergeet van ‘n titel en besef hoe baie jy eintlik vir jouself gedoen het.”

“As jy ‘n passie het vir die vermaaklikheidsbedryf, self ‘n besigheidsvrou is, jou selfbeeld wil bou, ‘n hart het vir liefdadigheid of net lus is vir ‘n nuwe avontuur is Sterstatus beslis vir jou,” is Lynette se raad aan ander vroue.

Inskrywings vir Seisoen 5 kan vanaf 3 November by www.sterstatus.co.za gedoen word.

Related Articles

Back to top button