Darius vaar uitstekend in Abu Dhabi

Darius het vanaf 13 tot 21 Augustus Suid-Afrika in Abu Dhabi by die MMA Jeug Wêreldkampioenskappe verteenwoordig.

Darius Dekker van Brenthurst het onlangs aan die MMA Jeug Wêreldkampioenskappe in Abu Dhabi deelgeneem.

Die 15-jarige vegter het al op die ouderdom van vier jaar met MMA begin nadat sy pa hom daaraan blootgestel het.

“My pa wou my leer hoe om vir myself op te staan en myself te verdedig wanneer dit nodig is,” het Darius vertel.

Sy pa Kobus Dekker (50) was ook ‘n kranige MMA vegter en skopbokser op sy dag.

Darius is tans ‘n Graad Nege leerder aan Hoërskool Die Anker waar hy ook atletiek en tennis as sport beoefen.

“Alhoewel hy baie tyd aan sy sport bestee doen hy net so goed met sy akademie,” het Kobus trots vertel.

Darius is al vir meer as 10 jaar deel van die XKT Klub waar hy reg deur die jaar vier keer per week oefen.

Op Maandae en Woensdae oefen hy MMA en Jiu Jitsu, terwyl hy op Dinsdae en Donderdae skopboks oefen.

Op 13 Augustus het Darius na Abu Dhabi vertrek, waar hy op 18 Augustus in drie gevegte te staan gekom het.
Hy het eerste teen Lebanon geveg waar hy goud gevat het.

Sy tweede geveg het hy vir Uzbekistan binne 20 sekondes gewen en sy derde geveg het hy teen Ukraine verloor.

Darius het in total vierde in die wêreld geëindig. “Ek sou graag wou wen, maar ek gaan volgende jaar terug gaan om goud te kry.”


LEES OOK: Kunstige Osie wen met haar lapfverf werk


“Ek is baie trots op hom, hy het werklik baie goed gedoen,” het Kobus gesê.

Darius is al vir sewe agtereenvolgende jare die Suid-Afrikaanse MMA en skopbokskampioen.

In Mei vanjaar het hy gekwalifiseer om Suid-Afrika in Italië te verteenwoordig by die Skopboks Wêreldkampioenskappe wat in September sal plaasvind.

Weens ‘n tekort aan fondse sal Darius nie vanjaar die wêreldkampioenskappe bywoon nie.

“Ons sukkel om vir hom ‘n borg te kry. Dit is peperduur vir hom om elke nou en dan oorsee deel te neem,” het Kobus aan die Herald vertel.

Darius se volgende groot uitdaging is om volgende jaar weer die Suid-Afrikaanse kampioen te wees in MMA.

“My groot doelwit wat ek graag sal wil bereik is om die wêreldkampioen te wees.”

Exit mobile version