Dalwers gekies vir Nasionale Kinderkoor

Dié kinderkoor gaan in 2023 na Europa toer om aan die Koor Olimpiese Spele deel te neem.

Vier leerders van die Laerskool Dalview is onlangs gekies vir die Nasionale Kinderkoor.

Dié wonderlike geleentheid het Ari’el Vandermaelen, Devoney Fritz, Paris du Plooy en Kiara Roberts te beurt geval nadat hulle aan verskeie oudisies moes deelneem.

Met die eerste rondte oudisies wat op 31 Mei plaasgevind het, het Antonie Bougas, direkteur van Sing in Harmonie, die leerders by Laerskool Dalview gaan besoek en afgeneem.

Hierna het leerders kennisgewings ontvang om deel te wees van die volgende rondte uitdunne wat op 5 Junie te Pretoria plaasgevind het.


LEES OOK: What you need to know about worms in dogs


Na ongeveer 800 landswye oudisies het dié vier Brakpan sangers die geleentheid gekry om deel van die Sing in Harmonie Nasionale Kinderkoor te wees.

Al vier dié leerders is deel van die Laerskool Dalview se koor en hulle het aan die einde van Junie reeds met ‘n koor werkswinkel begin om vir die kinderkoor voor te brei.

Ari’el Vandermaelen (7) is tans in Graad Een. Haar ma Lynnette vertel dat sang in Ari’el se gene is omdat haar oupa ‘n musikant is en dat sy self as kind deel van sanggroepe en kore was.

“Ek is opgewonde om saam al die nuwe maatjies te sing,” het Ari’el gesê.

Devoney Fritz (6) wat ook in Graad Een is, vertel sy is opgewonde om deel van die koor te wees. Natalie Devoney se ma sê dat dit vir hulle as ouers ‘n groot voorreg is om hul kind te sien presteer.

Die nege-jarige Paris du Plooy is tans in Graad Drie en is vanjaar ook vir die eerste keer deel van die kinderkoor.

“Ek wag nou al my hele lewe lank om deel van so iets te wees,” het Paris gesê.

Haar ma, Lucy reken dat sang Paris se grootste droom is en sy baie trots is op haar.


LEES OOK: Easterns badminton players to serve at Commonwealth Games


Kiara Roberts (9) is ook in Graad Drie. Haar liefde vir sang het begin nadat sy onophoudelik America’s Got Talent gekyk het.

“As ek iets doen dan doen ek dit met my hele hart,” het Kiara gesê.

Haar ma Rinaldi noem dat hulle as ouers opgewonde is vir die jaar wat vir haar voorlê. Die Nasionale Kinderkoor sal later vanjaar saam met kunstenaars soos Leah en Juanita du Plessis optree.

Die koor gaan ook in verskeie Kerskonserte en musiekvideo’s te siene wees. Voorts sal die koor Suid-Afrika in 2023 verteenwoordig by die Koor Olimpiese Spele wat in in Europa sal plaasvind.


Exit mobile version