Hoërskool Stoffberg matrikulant sterf in ongeluk

Hugo word beskryf as ‘n nederige, behulpsame en spontane jong man.

‘n Gewilde graad 12-leerder aan Hoërskool Stoffberg, Hugo de Wet (20), is Sondagaand in ‘n motorongeluk oorlede.

Volgens inligting het die ongeluk ongeveer 21:00 in Benoni plaasgevind. Hugo was in die passasiersitplek van die voertuig.

Sy ouer neef Leonard (27), wat ook in die voertuig was, het ernstige beserings opgedoen en is na ’n hospitaal vervoer.

Hugo, wat ‘n kranige ringbal speler was, het by sy ouma en oupa, Magriet en André de Wet, in Dalview gewoon en groot geword.

Hugo laat sy ouma, oupa, ma, ‘n broer en twee susters agter.


LEES OOK: Raising a nation of good men – a call for national action


“Ons is hard getref deur die tragedie maar weet dat hy nou op ‘n beter plek is. Hy sal voortleef in ons harte,” het Magriet gesê.

Hugo word beskryf as ‘n nederige, behulpsame en spontane jong man.

“Ek gaan alles van my kleinkind baie mis. Sy plek is leeg,” het Magriet bygevoeg.

Familie en vriende gaan Donderdag hul laaste eer aan die gewilde jong man betoon tydens ’n byeenkoms wat by sy woonplek in Dalview sal plaasvind.

Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

Exit mobile version