Tiener kan na 13 jaar normaal lewe

Simoné kan getuig van die belangrikheid van bloedskenk en hoe dit haar lewe positief beinvloed het.

‘n 14-Jarige inwoner van Dalpark kan na jare se kroniese medikasie weer ‘n normale lewe lei noudat sy genees is.

Simoné Wasserman is op 11 maande met ‘n immuungebrek gediagnoseer en moes sodoende van een-jarige ouderdom af maandeliks medikasie, genaamd Polygam, ontvang.

Polygam word gebruik om die liggaam se natuurlike immuunstelsel te versterk en sodoende te beskerm teen siektes.

Dit het veral moeilik gegaan toe die grendeltydperk destyds aangekondig is aangesien Polygam van bloed gemaak word.


LEES OOK: Ma sien hoe haar kind (9) raakgery word


In dié tydperk het mense nie bloed geskenk nie en sodoende was daar ‘n tekort aan Polygam, wat daartoe gelei het dat Simone nie die medikasie wat sy nodig gehad het, kon ontvang nie.

Dié omstandighede in 2020 het ook verhoed dat Simoné skool toe kon gaan weens die feit dat daar nie medikasie vir haar was nie.

“Ons wou nie die kans vat om haar aan die virus bloot te stel met die wete dat sy nie haar medikasie verkry het nie,” haar ma Melanie Wasserman (46) gesê.

Simone het dus ‘n hele kwartaal nie skool toe gegaan nie.

“Sy het my destyds gevra of sy gaan sterf as sy die koronavirus kry, en ek het nie geweet wat om vir haar te sê nie,” het Melanie gesê.

Simoné kan getuig van die belangrikheid van bloedskenk en hoe dit haar lewe positief beïnvloed het. In April 2021 het Simone haar jaarlikse ondersoek ondergaan waar haar bloed getrek en getoets word. Die uitslae het getoon dat sy 100% gesond is en nie meer maandeliks Polygam hoef te ontvang nie.

“In die middel van ‘n pandemie het die Here ‘n wonderwerk gedoen en haar genees.”

Simoné is tans ‘n graad nege leerling aan die Hoërskool Stoffberg waar sy onlangs begin deelneem het aan sport en sodoende vir die eerste keer ‘n normale lewe kan lei.


LEES OOK: Spend time with your child (without it feeling like a chore)


“Ek sou sê dat almal bloed moet skenk om mense gesond te maak,” het Simoné gesê.

Alhoewel sy nou gesond is en nie meer die medikasie benodig nie, is bloedskenk steeds ‘n prioriteit vir dié gesin en daarom maak hulle ‘n punt daarvan om gereeld te skenk.

“Ek dink nie mense besef werklik wat hulle alles met bloed kan maak nie en hoeveel mense se lewens daardeur verander kan word nie,” het Melanie gesê.

Exit mobile version