Hoërskool Die Anker se hoof groet

Stephan Killian sal as waarnemende hoof optree.

Hoërskool Die Anker het op 25 Februarie tydens ’n formele dinee afskeid geneem van die skoolhoof, Johan Snyman.

Snyman het in Januarie 2015 by Die Anker aangesluit as die nuwe hoof, na de aftrede van sy voorganger, George Nell.

Sedert sy aanstelling het die skool gegroei en laat hy groot skoene agter om te vul.

Snyman het op 28 Februarie sy laaste dag by die skool deurgebring, waartydens die leerders ook die geleentheid gekry het om op gepaste wyse van hom afskeid te neem Dié verrigtinge het op die rugbyveld plaasgevind.


LEES OOK: Ankers maak hul stemme dik


Daar is onder andere ’n simboliese ballon vir elke lewensles, wat hy as hoof van die skool uitgeleef en vir die leerders geleer het, die lug ingestuur.

“Hoërskool Die Anker gaan hom beslis mis, maar ons gun hierdie `legend’ die welverdiende rus wat hom toekom,” het ’n woordvoerder van die skool gesê.

In ’n laaste onderhoud met die Herald het Snyman gesê dat die hoogtepunt van die afgelope paar jaar beslis was om te sien hoe Die Anker geleidelik “groter en sterker” geword het.

“Ek gaan die leerders, ouers en personeel werklik mis,” het hy gesê.

“’n Hoof is elke dag, die hele dag met mense besig. Die vriendelike gesigte en mense wat altyd bereid was om meer as hulle deel te doen, sal my altyd bybly.”

Oor die afgelope twee jaar, toe normale skoolgaan deur die koms van Covid ontwrig is, het Snyman gesê dat almal baie skielik moes aanpas.

“Ons moes daagliks gehoor gee aan Covid-protokol en min kinders by die skool hê. Ek het geleer om saam met die ouers en onderwysers se vrese te leef.

“Covid het my elke dag laat besef dat ek hul gesondheid eerste moes stel. Skielik moes ons op ander maniere begin klas gee.

“Ek het deurentyd personeel en leerders aangemoedig om te bly leef. Tog moes ons tussen alles deur nie vergeet het dat die alledaagse verpligtinge steeds moes voortgaan nie,” het Snyman gesê.


LEES OOK: City encourages residents to use their 240L wheelie bins


“Dit was altyd bitter moeilik om saam met mense te wees wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het.”
Snyman ht vertel dat hy beplan om dinge nou so bietjie kalmer te vat.

“Ek wil meer houtwerk doen, meer gholf speel en meer aandag aan my kleinkinders gee,” het hy gesê.

“My boodskap aan almal wat agterbly, is om voluit te leef. Elke dag is ’n gawe uit God se hand. Waardeer mekaar en behandel almal met respek.”

Sy eggenoot, Alice, bly steeds aan as die departementshoof vir Engels by Die Anker. Stephan Killian sal as waarnemende hoof optree totdat ’n aanstelling later vanjaar gemaak word.


Exit mobile version