Besigheid kry swaar sonder krag

"Ek woon ook op die perseel en dit is onaanvaarbaar dat niemand my kan help nie."

’n Besigheidseienaar van die dorp sit hand in die hare weens die feit dat sy besigheid sedert Donderdag sonder krag is.

Die vermoede is dat kabeldiefstal die oorsaak van die onderbreking is. Sedertdien moes TJ Tuinsentrum in Witpoortjie probeer om kop bo water te hou sonder krag.

Dié kwekery se kragkabels is blykbaar vroeg Donderdagoggend gesteel en daar word tans gebruik gemaak van ’n kragopwekker, wat daagliks tot groot onkoste lei.

Die eienaar, Gideon Scheepers, beweer dat hy verskeie kere persoonlik om hulp gaan aanklop het by die elektrisiteitsdepot en dat hy verseker is dat daar aandag aan die probleem gegee sal word.


LEES OOK: New members sworn into mayoral committee


Tog meen Scheepers dat hy nog deur niemand gekontak is nie en niemand het hom al kom sien oor die kragonderbreking nie.

“Ons yskaste, boorgat en kaartmasjien is maar ’n paar dinge wat krag benodig.

“Ek woon ook op die perseel en dit is onaanvaarbaar dat niemand my kan help nie,” het Gideon gesê.

Die Herald het kommentaar vanaf die Stad van Ekurhuleni aangevra. Indien dit ontvang word, sal dit gepubliseer word.


LEES OOK: RMAC Jet Day attracts both pilots and spectators

Exit mobile version