Kyk: Dianne volg haar drome ongeag omstandighede

Dié sterk vrou laat haar realiteit nie haar lus vir die lewe demp nie.

Dalview inwoner Dianne Fourie (45) is al vir 10 jaar ‘n kwadrupleeg maar sy laat nie toe dat haar omstandighede haar onder kry nie.

In 2012 het Dianne en haar gesin se lewe onherroeplik verander toe sy in ’n motorongeluk was.

Na die ongeluk kon sy nie loop nie en dit het haar afhanklik van ander gemaak. Sy het ’n voltydse versorger wat haar bystaan en help met alledaagse take.

Dié merkwaardige vrou laat egter nie toe dat die realiteit haar lus vir die lewe demp nie.

Sy het onder andere in 2016 ’n boelie projek aangepak waar sy na verskeie skole besoek het vir die bewusmaking van diée saak in skole.


Videogreep:


“Kinders word gereeld geboelie en hulle praat nie daaroor nie,” het sy gesê. (Die Herald het hieroor berig: Brakpan skole kan betrokke raak by unieke anti-boelie projek).

Een van haar grootste drome was egter om eendag ‘n boek skryf, maar voor die ongeluk was sy onseker waaroor haar boek sou handel.

Sy het besluit dat die tyd nou reg is en die afgelope paar maande het sy hard aan haar boek gewerk. Die hart van ‘n gewone mens is tans in die proses om gedruk te word.

“Mense dink omdat ek in ‘n rolstoel is, is ek anders. Ek is steeds dieselfde vrou as voorheen,” sê sy.
Die boodskap wat Dianne met haar boek wil deurgee is dat ‘n mens elke dag volheid moet leef asof dit jou laaste is.

Volgens haar het elkeen op aarde ‘n doel en sy wil hê dat mense dit moet uitleef en besef dat die lewe kort is. Sy gesels ook graag oor haar groot liefde vir musiek was sy al op ‘n jong ouderdom ontwikkel het.

Sy sing en speel al jare lank kitaar en oor die laaste paar jaar het sy verskeie mense verbaal geleer om kitaar te speel.


LEES OOK: Talking about teen suicide saves lives #realconvo


“In die begin was dit moeilik omdat ek nie self die kitaar kon vashou en hulle reg help nie,” het sy gesê.

In Augustus 2019 het Dianne die geleentheid gehad om vir Erik Holm te ontmoet. Erik is net soos Dianne verlam en sy was in vervoering met Erik se vermoë om sy spesiaal aangepaste kitaar te tokkel.

Sy wou bitter graag ook leer om dit te doen. Erik het haar gehelp om sy kitaar baas te raak en het haar in kontak geplaas met ‘n maatskappy wat ‘n kitaar spesiaal vir haar gemaak het.

Vandag is Dianne steeds in die proses om haar kitaar te bemeester en oefen daagliks sodat sy eendag vlot kan speel.

“Ek kan egter nie vir te lank speel nie omdat ek vinnig moeg raak,” het sy gesê.

In haar vrye tyd lewer sy graag motiveringspraatjies by kerke of vroue byeenkomste. Dianne kan nie stil sit nie en het aan die Herald vertel dat haar volgende droom is om ‘n liedjie te skryf en in ‘n ateljee op te neem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version