Local newsNews

Bibliotekaresse sterf kort voor 65ste verjaarsdag

Haar tweede passie was boeke en sy het veel eerder gelees as gefliek.

Orna Kemp, wat vir baie jare die bibliotekaresse van die Brakpan Biblioteek was, is op 2 Januarie, slegs twee weke voor haar 65ste verjaarsdag, oorlede.

Sy is aan die begin van Desember met kanker gediagnoseer. Inwoners van die dorp wat die biblioteek besoek het, sal haar onthou as ’n vriendelike persoon wat nooit geskroom het om te help waar sy kon nie.

Die inwoner van Pollak Park, Springs, was vir ongeveer 37 jaar by die biblioteek werksaam. Sy het in 1985 as assistent bibliotekaresse begin werk en het in 2003 hoof van die biblioteek geword.

Sy het haar werk met oorgawe gedoen en het altyd ’n deeglike kennis gehad van die boeke wat in voorraad in die biblioteek was.

Orna, wat nooit getrou het nie, was bekend en geliefd onder haar bure. Volgens Orna se stiefbroer, Hendrik Jansen, het sy ’n passie vir voëlkyk gehad.

Sy het verskeie kursusse gedoen om haar passie uit te leef en kon baie voëls identifiseer selfs net op die geluide wat hulle gemaak het. Sy het Kruger Wildtuin dikwels besoek om na die voëls en nie die diere te gaan kyk.

Haar tweede passie was boeke. Sy het veel eerder gelees as gefliek. Gelykstaande aan die boeke was Orna se liefde vir worshonde.

Haar laaste een was Hans, wat ongeveer ’n jaar gelede dood is. Orna was ook kreatief en het alles probeer van krale tot kaartjies maak tot hekel en naaldwerk. Naas haar stiefbroer laat sy ook ’n niggie, Marina Fourie, en dié se dogter, Carolien Dreyer, na.

Related Articles

Back to top button