Local newsNews

Organisasie help kinders met skooldrag

Vanjaar kon hulle vir meer as 100 behoeftige kinders skoolklere gee.

Om ’n helpende hand te bied is iets wat Belinda Coetzer (48) en Bart Zaayman (70) baie na aan die hart lê.

Die twee inwoners is betrokke by die nie-winsgewende organisasie Brakpan vir Brakpan. Die organisasie is in Oktober as ’n amptelike organisasie geregistreer en het sedertdien verskeie suksesvolle projekte geloods.

Belinda woon al 38 jaar in Brakpan en het sewe jaar gelede hande gevat met Solidariteit Helpende Hand en ’n passie vir liefdadigheid ontwikkel.

Bart is die voorsitter van die Just Wheels Motorklub en woon al 30 jaar in Brakpan.

Die Brakpan vir Brakpan-organisasie het vanjaar weer ’n projek van stapel gestuur waar gratis skoolklere aan kinders gegee word.

Tweedehandse skoolklere is deur die gemeenskap geskenk en word dan aan minderbevoorregte kinders gegee.

Verlede jaar het die organisasie 23 kinders gehelp met skoolklere vir die nuwe jaar en vanjaar kon hulle meer as 100 behoeftige kinders help oor ’n tydperk van twee dae.

Brakpan vir Brakpan werk saam met organisasies soos Just Wheels Motorklub en Rata Maatskaplike Dienste om ’n verskil te maak.

“Ons volgende projek is om die dorp skoon te maak en so te hou,” het Belinda gesê.

’n Sentrale sopkombuis en klerebank is ook dinge wat op die organisasie se horison lê.

“Ons wil graag die gemeenskap ophef en help waar ons kan,” het Bart gesê.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button