Local newsNews

Dienslewering moet ’n prioriteit wees

Dit gaan baie interessant wees om te sien of Ekurhuleni uit die toestand van algehele verval gered sal kan word.

Verwag aksie van Anzac skryf per e-pos:

Ek dink ek mors waarskynlik my tyd om hierdie brief te skryf, maar ek gaan nietemin ’n poging aanwend.
Wat ek die laaste paar jare geleer het, is dat mense geneig is om te kla en te kla, maar niks aan die saak te doen nie.

So die munisipale verkiesing is verby en tot my groot verbasing het die DA ’n haas uit die hoed gepluk en gesorg dat die ANC nie meer die top posisies in Ekurhuleni beklee nie. Dit is nou tyd om werk te maak van al die beloftes.

Dit gaan baie interessant wees om te sien of Ekurhuleni uit die toestand van algehele verval gered sal kan word.
Om terug te keer na Brakpan. Ons almal weet dat Plastic City ’n groot kopseer veroorsaak.

Die feit dat ’n pad wat daagliks duisende voertuie gedra het nou nie meer bestaan nie is die resultaat van swak munisipale bestuur en kriminele aktiwiteite van onwettige myners. Onwettige mynwerkers (zama-zamas) wat nou al vir meer as ’n jaar rustig voortgaan om die aarde om te dolwe.

Ons het vrede gemaak met die feit dat Main Reefweg nooit weer in ons leeftyd sal bestaan nie. Waarmee ons nie vrede kan maak nie is die feit dat motoriste, wat belasting betaal en voertuiglisensies betaal, deur ’n stuk verwaarloosde pad deur ’n plakkerskamp moet aansukkel om van punt A na punt B te vorder.

Die welkome reën van die afgelope paar dae het die omstandighede ook net vererger.

As belastingbetaler is dit ’n klap in my gesig. Ek weier dat my vrou die pad ry en met ongerief moet sy ompaaie ry.

Tog word daar geen poging aangewend om die belastingbetaler op hoogte te hou van wanneer daar weer ’n ordentlike pad tussen Benoni en Brakpan gaan wees nie.

Die pad wat daar was kon herstel word (ek glo so). Nou is daar niks.

Ek woon die afgelope 12 jaar in Brakpan en het die agteruitgang beleef. (Nie net hier nie, maar oral. Ek hoop dat ons uiteindelik ’n keerpunt bereik het. Dat daar vasgeskop gaan word en dat dinge nou sal gebeur.

Ek het geen begeerte om te trek nie, maar ek wil ook nie bly in ’n plek wat daagliks verkrummel en basies stuk vir stuk uitgegrou en weggedra word nie. Ek wil nie deur ’n plakkerskamp werk toe ry nie, ek wil dienslewering hê, want ek betaal daarvoor.


ALSO READ: 

DA’s Tania Campbell is Ekurhuleni’s new mayor

ALSO READ: 

Hospital observes World Prematurity Day with reunion event

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button