Local newsNews

In die Kollig

Leer Brakpan se mense ken.

Fransie Erasmus (53) is onlangs as die operasionele bestuurder by die Eric Holdtman Dienssentrum aangestel. Sy en haar eggenoot, André (45), woon in Germiston.

Wat behels jou daaglikse pligte?
Ek is verantwoordelik vir die instandhouding van die dienssentrum. Dit is ook deel van my pligte om na die voorraad om te sien asook kontrole te hou en die personeel val ook onder my. ’n Belangrike aspek van my werk is die opbou van ons fondse deur fondsinsameling en borgskappe.

Wat bied die dienssentrum vir die gemeenskap?
Ons begin nou weer met talle aktiwiteite vir die senior burgers van ons dorp wat ondermeer matrolbal, bingo, veerpyltjies en kaartspel insluit. Die dienssentrum beskik ook oor ’n haarsalon, ’n naelsalon, boekklub en biblioteek wat tot beskikking van ons lede is. Ons verskaf ook bekostigbare etes.

Wie kan by die dienssentrum aansluit en hoe moet hulle te werk gaan?
Inwoners van die drop wat bo 60 jaar is, is welkom om aan te sluit. Die lidmaatskapsfooi beloop R30 per jaar.
Die dienssentrum het soos talle ander organisasies en besighede ’n knou gekry weens die pandemie.

Wat is jou onmiddellike planne om alles weer mooi aan die gang te kry?
Ons is bly dat ons weer aan die gang kan kom met ons gereelde aktiwiteite. Ons het ook Bybelstudie en kerkdienste. Die tweedehandse klerewinkel is ook volstoom aan die gang. Die publiek moet ook op 6 November kom inloer wanneer ons ’n kermis/mark aanbied.

Wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen?
Ek geniet dit om ’n goeie fliek te kyk, te lees en gehalte tyd saam met my gesin deur te bring.

Gaan jy jou kruisie trek in die komende munisipale verkiesing en watter verandering sou jy graag in die dorp wou sien?
Beslis, want mens het nie reg om te kla oor dienste wat nie gelewer word as jy nie gestem het nie. Ek sou graag algemene verbetering wil sien, soos die opknapping van ons paaie. Daar moet gekyk word na die lewenskoste van veral minderbevoorregtes. Dienslewering in die algemeen moet verbeter.

Wat sal ‘n mens altyd in jou handsak vind?
Alles en nog wat. Ek het amper agt kleinkinders.

Sal jy vir ’n week sonder jou selfoon kan klaarkom?
Net indien my man, my kinders en kleinkinders by my is, dan sal ek vir ’n jaar daarsonder kan klaarkom.

Waar hou jy graag vakansie?
Die Kaapse Wynroetes.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button