Visvang by die dam gaan gemis word

Mense soos ek wat omgee kan weer die dam “op stock” met vis as daar nie is nie.

Bejaarde Hengelaar van Brakpan-Noord skryf:

Met verwysing na die berig in die Herald van 27 Augustus (Jan Smuts Park could soon open up). Vier jaar is ’n lang tyd vir ’n plek om toe te wees, maar ek sal liewer niks daaroor sê nie.

Ek is bly dat dinge nou einde se kant toe staan, maar ek sal daarvan hou om te weet hoeveel die opgradering die belastingbetaler uit die sak gejaag het.

Dit sal ook interessant wees om te sien of die ablusie fasiliteite vir lank staande en bruikbaar gaan bly.

Dit sal net gebeur as daar dag en nag mense aan diens is. Hoop maar dat dit die geval sal wees en dat daar die keer toegangsbeheer is.

Dit is tog teleurstellend om te sien dat die Stad van Ekurhuleni besluit het dat daar nie meer vis gevang sal word nie.

Ek en my vriende het vir baie jare byna elke week daar gaan visvang. Dit was goeie ou dae en dit was lekker en veilig.

Die plekke waar mens nog kan gaan visvang, sonder om oor jou veiligheid te stres, word al hoe minder. Ons het baie aande in ’n klein tentjie daar gesit en niemand het ons ooit gepla nie.

Ek kan nie sien watter skade dit sal bring as mense daar gaan visvang nie. Dit is nou ook as daar nog ooit vis in daardie dam is, maar mense soos ek wat omgee kan weer die dam “op stock” met vis as daar nie meer vis in die dam is nie.


ALSO READ

How different life stages affect homeownership

Arries se netbalspanne skitter op die baan

 

Exit mobile version