Gemeenskap salueer Jan en Sonja Roos

Adj-off Jan Roos was ten tye van sy afsterwe die bevelvoerder van die Trio-taakspan.

Die gemeenskap van Brakpan het die afgelope week nog probeer sin maak van die afsterwe van adj-off Jan Roos (49) toe dit Maandagmiddag bekend geword het dat sy vrou, Sonja (58), ook die stryd teen Covid-19 verloor het.

Die egpaar, wat vir jare lank saam in die SAPD gedien het, het ’n uiters suksesvolle span gemaak totdat Sonja in 2019 uit die diens getree het.

Een van hul kollegas van baie jare het na die tyding van Sonja se dood opgemerk dat hulle in die lewe ’n ‘crew’ was.

“Hulle was altyd saam en het altyd uitgekyk vir mekaar. Daardie twee mense het mekaar baie lief gehad. Hulle is nou weer ’n ‘crew’,” het die kollega gesê.

Adj-off Jan Roos en Sonja is in April 2015 getroud nadat hulle lank ‘n paartjie was.

Die diep spore wat beide, maar veral Jan, in die gemeenskap getrap het, was die afgelope week duidelik.

Verlede Woensdagaand het talle mense met hul motors deur die strate van die dorp gery om hul laaste eer te betoon.

Die stoet is daarna na die N17-hospitaal in Springs, waar Sonja nog ernstig siek was, om vir haar te bid.

Sondag het ’n groep mense weer by die hospitaal byeenkom om lofprysing te doen en vir Sonja te bid.

Honderde boodskappe van medelye en bemoediging is sedert verlede Woensdag op sosiale media gedeel deur kollegas, vriende en die publiek.

Jan het in 1989 by die SAPD aangesluit en het gedurende sy loopbaan vele medaljes en toekennings ontvang.

Hy was altyd nederig oor die lof wat hom toegeswaai is en het nooit gehuiwer om die span, waarmee hy saam gewerk het, erkenning te gee nie.

Sonja het 38 jaar diens in die SAPD geniet toe sy uitgetree het met die rang van adjunk-offisier.

Sy is net soos haar eggenoot vereer met talle toekennings en medaljes deur haar jare van diens in die SAPD.

Adj-off Jan Roos is verlede Woensdag oorlede weens Covid-19. Sy eggenoot, Sonja, het Maandagmiddag die stryd teen Covid-19 verloor. Foto: Tessa’s Photography.

Die bevelvoerder van die Brakpan-polisiestasie, brig Fredl Jonck, het gesê dat beide wel gerespekteer was deur die gemeenskap en hul kollegas.

Hy het gesê dat Jan ’n polisieman was wat deurentyd goeie sukses behaal het, veral met ernstiger misdade soos kapings en huisrowe.

Jan was ten tye van sy afsterwe die bevelvoerder van die Trio-taakspan.

Jonck het bygevoeg dat Jan se kommunikasie en samewerking met en van die publiek veral noemenswaardig is.

“Ons sal graag wil voortbou daarop. Ons gaan beslis nie slaplê wanneer dit kom by die bekamping van misdaad in die dorp nie,” het Jonck gesê.

Hy het in dieselfde asem ook die gemeenskap van die dorp bedank vir hul volgehoue samewerking om misdaad in die dorp te bekamp.

’n Lid van die taakspan, konst Elwin Davis wat die afgelope tyd sy aan sy met Jan gewerk het, is diep geraak deur sy kollega se afsterwe.

“Jan was nie net my kollega nie, maar ook my vriend. Ek het baie van hom geleer en sal hom nooit vergeet nie,” het hy gesê.

Die vlag by die Brakpan polisiestasie het die week halfmas gehang ter ere van adj-off Jan Roos en sy eggenoot Sonja Roos.

Jan en Sonja was vir jare ’n paartjie totdat hulle in April 2015 getroud is.

Sonja het twee kinders, Neil (35) en Daniel (34) van der Walt, en Jan het twee kinders, Allison (23) en Julian Roos (26).

Hulle was ook gaande oor hul vier kleinkinders.

Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.

Van ons kant af

Die span by die Brakpan Herald het vir baie jare te doen gehad met adj-off Jan Roos en met Sonja Roos toe sy nog in die diens van die SAPD was.

Nie net was hy ’n ware staatmaker wanneer ons inligting moes bekom nie, hy het ook ’n vriend geword.

Die Herald se redaksionele span bestaan uit vroue (benewens sport) en vir baie jare was Jan (soos ons hom genoem het) ’n steunpilaar.

Wanneer ons na ’n plek moes gaan waar dit nie veilig was nie het Jan altyd ’n plan gemaak.

Indien hy ons nie self kon vergesel nie het hy gesorg dat daar iemand was.

Hy het vele van ons deur slote en gate gehelp en eendag selfs gesorg dat ons nie in diep olie vasval nie.

Op ’n toneel het hy altyd uitgekyk vir ons en seker gemaak dat ons veilig is. Wanneer daar ’n misdaadtoneel was het hy nie gehuiwer om ons in kennis te stel nie.

Die magdom kere wat hy en sy eggenoot en spanlede (wat deur die jare gewissel het) op die Herald se voorblad verskyn het getuig van sy toegewydheid en die sukses wat hy met sy werk behaal het.

Dan tel ons nie eens die berigte wat nie altyd die voorblad gehaal het nie, maar steeds ’n weerspieëling was van die top polisieman wat hy was.

Die gemeenskap van Brakpan het ’n groot gees verloor.

Jan, ons vriend, ons salueer jou.

Sonja Roos jou bydrae tot misdaadbekamping in die dorp sal ook vir lank onthou word.

Ons innige simpatie aan jul naasbestaandes.

Jul sal verseker gemis word.

Thelma Koorts (redakteur), Stacy Slatter (nuusredakteur) en die Herald-span.

Exit mobile version