Local newsNews

Inwoner hoop vir werk of prostetiese been

Sy vertel met trane in haar oë en dat sy net haar lewe wil terughê.

’n 53-jarige inwoner van die dorp se lewe het in 2018 ’n nare wending geneem toe sy in die Kaap op ’n rots gegly en geval het.

Vier jaar na die ongeluk, wat uiteindelik haar been geëis het, sit die vrou op moedverloor se vlakte.
Lynn Foster van Brakpan-sentraal sal nooit vergeet toe sy in 2018 op ’n rots gegly en in die proses deur ’n pylstert vis onder haar voet gesteek is nie.

Sy het vertel dat ’n lang stryd na die voorval gevolg het, aangesien die wond septies geraak het. Die feit dat sy ’n diabeet is het nie gehelp nie en sy het uiteindelik gangreen opgedoen, wat daartoe gelei het dat haar been geamputeer moes word.

LEES OOK: Kerk bied weg vir vertroosting

“Sedertdien staan my lewe stil. Ek kry nie werk nie, want niemand wil ’n gestremde in diens neem nie.

“Ek sit nou al vir vier jaar by die huis sonder ’n inkomste. Ek het al alles probeer, maar ek is op die punt om die handdoek in te gooi,” het Lynn gesê.

Sy het vertel dat haar man, Brett Foster (42), se salaris in totaal gebruik word om hul huur te dek.

“My hart breek vir my man. Sy motorfiets is gesteel en ons het ons kar, weens ons finansiële stand, verloor.

“Die gevolg is dat hy elke dag na sy werkplek in Benoni moet stap. Hy werk in skofte van 04:00 tot 16:00. As sy skof in die oggend begin moet hy al om 02:00 begin stap.

“As ek net ’n werk kan kry sal dit die lewe totaal en al vir ons verander. Ek vind dit baie frustrerend, want met my kop en my hande is daar absoluut niks verkeerd nie.”

LEES OOK: Bekende gimnasium bestuurder oorlede

Sy het vertel met trane in haar oë dat sy net haar lewe wil terug hê.

“As ek ’n werk kan kry sal dit baie help, maar indien ek tog eendag ’n prostetiese been kan kry sal ek die gelukkigste mense onder die son wees.

“Ek is alreeds vir vier jaar op ’n waglys by die staat vir ’n prostetiese been en het al eintlik in ’n mate moed opgegee dat dit ooit sal gebeur.

“Ek het ’n privaatkonsultasie gehad en het ’n kwotasie gekry van R45 000. Ons sal dit nooit kan bekostig nie.

“Ek sit in ’n posisie wat ek nie weet watter kant toe nie. Enige werk, wat ek met my gebrek in ag genome sal kan doen, sal ’n uitkoms bied.”

Sy het gesê die langtermyn doelwit is om ’n been te kry sodat sy weer soos ’n normale mens kan leef.

“Intussen steek ek my hand uit na Bo en glo iets goed sal oor ons pad kom.”

Related Articles

Back to top button