Editor's choiceLocal newsNews

Die lewe is ’n harde plek

Daar is gewone mense wie hul werk verloor en so het mense nie meer geduld met diegene wie bedel nie.

Bonita skryf per e-pos:

Met verwysing na die berig op die voorblad van 2 Julie (Vrou bedel vir haar kinders).

Ek het die artikel gelees en wil net vir Marelize en haar man voorspoed toewens en die hoop uitspreek dat Mark, as gevolg van die die artikel, geholpe sal raak aan ’n werk. Ja, daar is baie mense wie swaarkry. Daar is besighede wat swaarkry en vou. Daar is gewone mense wie hul werk verloor en so het mense nie meer geduld met diegene wie bedel nie.

Veral omrede daar baie is wie geld bedel net om drank of dwelms te koop. Ek het al gehoor van ’n vrou wie vir almal vertel het dat sy drie kinders het en geskei is. Dit was ’n leuen en sy wou net geld bekom vir drank. Die geld is ook aangewend vir vakansies en duur haarstyle en beddegoed.

Ek het al gesien hoe ’n netjiese pak toebroodjies, wat met liefde en met die laaste in die yskas gesmeer is, in ’n “gutter” gegooi word.

Ek het al gegee vir ’n tante wie nie eers ’n dankie kon uitkry nie. En dit was ’n baie groot bedrag.
Inteendeel, ek is aangegluur met ’n kyk wat sê: “Is dit al wat jy kan gee? Wat moet, ek daarmee maak?”

So vergewe mense wie aanmerkings maak. Dit moet jy besef sal met jou gebeur as jy daar staan. Daardie vrou wie gesê het dat sy ook daar wil staan het waarskynlik al deurgeloop onder kansvatters. My man is onlangs deur ’n paartjie genader vir geld (en hy het al gehoor van die betrokkenes en wat hulle koop met die geld) en toe hy weier loop die twee weg en hulle vloek hom erg.

Ons het al gegee vir mense net om te hoor hoe hulle vir hulle maters beduie dat hulle ook vir “daai suckers” moet gaan vra vir geld. Ek ken swaarkry. Daar was tye dat ek voor my koskas gestaan het en daar was net ’n sak mieliepap. Dan het ek die Here gedank en bly gewees dat ek nie ’n groot gesin het om kos te gee of stomme kinders wie honger is en nie verstaan nie.

Die lewe is ’n harde plek. Ek weet daar is baie wie swaarkry. Mense wie gister alles gehad het en vandag as gevolg van Covid het hulle niks nie. Ek bid julle twee die beste toe.

Mag die voorbladartikel dalk deur iemand gelees word wie vir jou man ’n werk kan gee. Kyk mooi na daardie twee kinders en mag die Vader gee dat hulle en julle van nou af net met die mooi kant van die lewe te doen sal kry.

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button