Editor's choiceLocal newsNews

Man se flinke optrede fnuik rowers se plan

Die bestuurder het in trurat begin ry waarna daar verskeie skote op sy Volkswagen Amarok geskiet is.

‘n 68-Jarige inwoner van die dorp het Maandag benoude oomblikke beleef toe vier rowers hom op die hoek van Goodsweg en Northdelaan geteiken het.
Volgens die man (sy naam word weerhou) het hy net na 11vm by die kruising stilgehou om regs te draai.
Die volgende oomblik het ‘n wit BMW aan sy regterkant verby gekom en reg voor hom stilgehou.
Vier mans, waarvan twee vuurwapens gehad het, het uitgespring. ‘n Derde booswig was met ‘n hamer gewapen.
“Terwyl die gewapende mans hul vuurwapens om my gerig het, het die man met die hamer teen my venster begin slaan,” het die inwoner verduidelik.
Die bestuurder het in trurat begin ry waarna daar verskeie skote op sy Volkswagen Amarok geskiet is.
“Ek het agteruit tot in Kerrystraat gery terwyl een van die mans steeds in my rigting gehardloop het,” het die inwoner vertel.
Op ‘n stadium het dié rower die aftog geblaas en na die BMW, wat steeds by die kruising geparkeer was, gehardloop om by sy makkers aan te sluit.
Al vier die verdagtes was jong mans wat donker klere gedra het.
Alhoewel vyf koeëls die bestuurder se bakkie getref het, was hy ongedeerd.
Die vermoede is ook dat daar ‘n tweede voertuig en meer rowers betrokke kon wees.
‘n Saak van poging tot moord word deur die Brakpan SAPD ondersoek en enigiemand met inligting word versoek om die na vore te kom en die stasie by 011 744 7100 te skakel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button