Editor's choiceLocal newsNews

Honde floreer in hul nuwe huis

“Ons het net aanhou hoop dat die regte hond ons kant toe sal kom.”

’n Jong paar van Dalview, Sonja Prinsloo (21) en Arnoux Venter (23), se besluit om aan die begin van die jaar twee honde by die Brakpan DBV aan te neem, is volgens hulle een van die beste besluite ooit.
Alhoewel hulle aanvanklik net op die uitkyk was vir een maat vir hul spanjoel, Lenie, het dinge so uitgedraai dat daar nou drie baie gelukkige honde in die huishouding is.
“Ons was lank op soek na nog ’n hond, nadat ons agter gekom het dat Lenie redelik eensaam is.
“Ons het oorspronklik by telers gekyk, maar gou agtergekom dat dit hopeloos te duur is,” het Sonja vertel.
“Ons het net aanhou hoop dat die regte hond ons kant toe sal kom,” voeg Arnoux by.
“Arnoux het eendag op Facebook die Brakpan DBV se inskrywing gesien van twee spanjoele, wat beskikbaar was vir aanneming en dit toe dadelik vir my gestuur. Ek het natuurlik onmiddellik gebel en ‘n afspraak gemaak om nog daardie selfde dag te gaan kyk,” het Sonja verduidelik.

“Ons het op pad soontoe gepraat en besin oor of ons werklik twee honde kan aanneem, maar ooreengekom om te besluit as ons by die DBV kom.
“Toe ons eers voor die hok staan kon ons onsself nie keer nie en het dadelik besluit dat ons al twee sal aanneem.
“Die twee oulike honde het net daar diep in ons harte gekruip en ons wou hulle sommer onmiddellik huis toe neem,” het Sonja gesê.
“Dit was nie eens vir ons ’n opsie om die twee te skei nie en op 8 Januarie kon ons vir Mia en Moskou huis toe neem.”
Volgens Sonja was die aannemingsproses baie maklik en dit het net drie dae geneem voordat die proses voltooi was.
“Die moeilikste deel van die proses was dat ons, nadat ons die aansoekvorm voltooi het, nie dadelik ons honde kon huis toe neem nie.
“Dit was ook moeilik om daar weg te stap en soveel diere, wat nog huise soek, daar te sien.”
Sy vertel dat Mia en Moskou baie verskillend was met die aanpassingsproses in hul nuwe huis.
“Mia was bietjie teruggetrokke, maar Moskou was dadelik sommer tuis en heeltemal uit sy kassie,” het Sonja vertel.
Lenie is ook baie ingenome met die nuwe toevoegings tot die gesin.

So kan jy ’n dier by die Brakpan Dierebeskermingsvereniging aanneem.
• Neem ’n afskrif van jou ID en bewys van adres saam.
• Indien jy in ‘n kompleks bly, is bewyse nodig dat diere wel op die perseel mag wees.
• ‘n R100 deposito word saam met die aansoekvorm betaal.
• Indien jou aansoek goedgekeur word sal die naaste DBV ‘n huis inspeksie gaan doen.
• ‘n Aannemingsfooi word afgehandel en daarna word jou vierpoot gesteriliseer en is dan reg om huis toe gaan. Stuur ‘n epos na adoptions@brakpanspca.co.za vir enige navrae of vir ‘n aansoekvorm.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button