Editor's choiceLocal newsNews

Die gezoem van bye is belangrik

“Daar is verskeie maniere om bye veilig te verwyder en seker te maak dat hulle kan voort bestaan in die natuur."

Anais Strauss
anais@caxton.co.za
Die aanhou van bye kan ’n opwindende stokperdjie wees, maar kan ook maklik ontwikkel in ’n voltydse kommersiële onderneming.
Dit is presies wat ’n 25-jarige inwoner van Sonneveld mee besig is. Marko Kruger het sy passie vir bye onlangs met die Herald gedeel en vertel dat sy einddoel is om in die toekoms voltyds met sy bye te boer.
“Ek werk vir ’n maatskappy wat waterdigting vervaardig en verskaf dit aan kontrakteurs in Suid-Afrika.
“Dit is baie ver verwyderd van byboerdery af, maar op die oomblik geniet ek beide,” het Marko vertel.

Marko Kruger is passievol oor bye en verstaan goed watter belangrike rol die insekte in die samelewing speel.

“Ek het ’n paar jaar gelede besef dat bye ’n bedreigde spesie is en ek het besluit om ’n korf te bou. Ek het dit sommer met ’n paar ou kas laaie aanmekaar gesit.
“Met vandag se tegnologie en YouTube het ek gesien dat mense ’n tipe lok-aas gebruik om die bye te lok.
“Die volgende dag was ek universiteit toe en toe ek later die aand by die huis kom was daar ’n klein swerm bye in die tuisgemaakte korf.
“Ek was baie opgewonde, ek het dadelik die deksel gelig. Dít, tot groot spyt, want twee bye het my op die elmboog gesteek.
“Ek het maar die deksel laat val en myself uit die voete gemaak.
“Tog is dit waar dié gogga (of die by) my gebyt het.
“’n Week later het die bye ongelukkig weggetrek weens die geraas van grassnyers en natuurlik is my opgewondenheid ook erg versteur.
“Ek het kort daarna my eerste leë korf gekoop en so het my boerdery begin.”

Lees ook Video: Nuwe hoop vir Sutherland-boere na nege jaar se droogte

Marko het vertel dat sy korwe wyd versprei is.
“Ek het ’n paar net buite Pretoria en dan ook in Rustenburg.
“Ek glo dat die publiek redelik oningelig is oor bye en die stigma wat daarmee gepaard gaan, naamlik dat bye mense sonder rede steek. Vir hierdie rede het stadsrade dit nog nie goedgekeur om bye korwe in woonbuurte te huisves nie,” het hy verduidelik.
“Daarom skuif boere die korwe na ander gebiede en spesifiek na plekke waar daar weiding en kos is vir die bye. Byboere skuif hulle kaste na saaiboere toe omdat die bye dit nodig het vir bestuiwing. Byboerdery is ’n ellelange proses. Bye word verwyder by mense se huise en dan in korwe geplaas, waarna dit geskuif word na ’n geskikte area.
“Nuwe swerms trek in ’n leë korf of vangkas in. ’n Paar keer in ’n seisoen word inspeksie gedoen om te verhoed dat peste soos besies, wasmotte of miere die heuning en koeke opvreet en verwoes.
“Ek geniet die hele proses, van bye verwyder tot en met die heuning uitswaai en die taaiheid van my vingers aflek.”

Marko Kruger besig met die proses om heuning te verwyder.

Marko het gesê dat die koue ’n effek het op bye se produktiwiteit.
“Die bye moet saamkoek in die korf om warm te bly. Ongelukkig in die wintermaande is daar baie minder blomme, so dit beteken ook minder kos vir die bye.”
Hy het genoem dat hy al ’n paar lesse geleer het met die byboerdery.
“Weens laksheid het ek verlede jaar in die hospitaal beland. My byepak het ’n gaatjie in gehad en ’n by het my op die brug van my neus gesteek. Van toe af maak ek dubbel seker my byepak is goed toe.
“Bye is ’n bedreigde spesie en ons as publiek kan baie doen om die saak te help deur meer by-vriendelike plante te plant soos laventel, dahlias, zinnias, madeliefies, sonneblomme, asters, calendula en koringblomme te plant.
“Daar is verskeie maniere om bye veilig te verwyder en seker te maak dat hulle kan voort bestaan in die natuur. Dit is egter belangrik dat slegs ’n persoon wat geregistreer is by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye bye mag verwyder of op ’n uiterste vlak doodmaak.
Stappe om te volg indien jy met bye wil boer:
• Maak doodseker jy is nie allergies nie, want jy gaan gesteek word.
• Woon ’n kursus by en sien of jy daarvan sal hou.
• Maak seker waar jy die bye wil plaas en sorg dat daar genoeg kos sal wees vir hulle, verkieslik op ’n plot of plaas.
• Kry die noodsaaklike beskermingsdrag.
• Begin met jou boerdery (koop jou eerste byekas).

Related Articles

Back to top button