Local newsNews

In die Kollig

 Ek geniet elke oomblik wat ek die voorreg het om met ons kinders met spesiale onderwysbehoeftes te werk.

Elmarie Rossouw (49), ’n inwoner van Springs, is onlangs aangewys as die adjunkhoof van Muriel Brand Skool.

Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan tot dusvêr.

Ek het op die PUK studeer en direk na my studies begin klas gee by Springs Kollege. Na ses maande het ek ’n voltydse pos gekry by my alma mater, Hoërskool Stoffberg.

Ek het wonderlike jare hier skoolgehou saam met mense wat eers my onderwysers was en toe later my kollegas en vriende geword het. In 2009 het ek die skuif gemaak na spesiale onderwys en Muriel Brand Skool het my huis geword.

In 2012 is ek bevorder tot departementshoof en op 1 Maart is ek toevertrou met die reuse verantwoordelikhede van die adjunkhoof van hierdie wonderlike skool.

ALSO READ:

In die Kollig

Wat het jou geïnspireer om onderwys as ’n beroep te kies?
Beide my ouers was in die onderwys. My ma was departementshoof by Felicitas en my pa was die hoof by Muriel Brand Skool. Hulle liefde vir die onderwys het beslis ’n groot invloed gehad op my uiteindelike beroepskeuse.

Ek het in Graad 10 reeds besef dat die Here my geroep het om eendag met die kroon van Sy skepping te werk.

Ek het vir baie jare my passie uitgeleef in hoofstroomonderwys en elke oomblik daarvan geniet. Ek het egter altyd in my hart geweet dat my groot liefde by kinders met spesiale onderwysbehoeftes lê en toe die geleentheid in 2009 opduik, het ek dit met albei hande aangegryp.

Hoe sal jou leerders jou beskryf?
Ek dink hulle sal my beskryf as ’n streng, maar ‘n regverdige mens. Ek glo ook hulle sien my as iemand met ’n omgeehart wat die belange van die kinders altyd vooropstel.

Hulle weet ook ek is iemand by wie hulle enige tyd kan kom aanklop as die lewe bietjie druk.

Waarvan hou jy die meeste in jou werk?
Ek geniet elke oomblik wat ek die voorreg het om met ons kinders met spesiale onderwysbehoeftes te werk. Ons het verlede jaar ’n baie moeilike jaar beleef met die pandemie wat die prentjie van onderwys totaal op sy kop gekeer het.

Ons kinders is baie afhanklik van kontak onderrig, maar ten spyte daarvan het hulle die beste van elke geleentheid gemaak. Hulle het nooit opgegee nie en het alle hulp en pogings van die skool se kant af aangegryp en waardeer.

Ten spyte van hul geweldige uitdagings, het hulle nooit gevoel die lewe skuld ons nie en danksy hierdie ingesteldheid het ons skool weereens 100 persent slaagsyfer in matriek gehad.

Hierdie harde werk en deursettingsvermoë van ons kinders, against all odds, laat my hart warm klop. Dit hou my nederig en inspireer my opnuut om elke dag met ’n glimlag my klas oop te sluit.
Wat doen jy om te ontspan?

Ek is mal daaroor om saam met vriende rondom ’n braaivleisvuur te sit en kuier. En as daardie vuurtjie dan nog boonop in die wildtuin kan brand, is dit vir my baie naby aan die perfekte prentjie.

Watter advies sou jy gee vir ’n jongmens wat onderwys as ’n beroep oorweeg?

Te veel keer moet ‘n mens hoor hoe ons jongmense deesdae afgeraai word om onderwys as ’n beroep te oorweeg.

Ons het juis nou jongmense in die onderwys nodig wat passievol en ernstig is oor ons land se toekoms. Jy kan vandag ’n verskil maak in kinders se lewens en daardeur verseker dat ons môre kwaliteit dokters, ingenieurs, ambagsmanne, haarkapsters ensovoorts het om ons land ’n beter plek vir almal te maak.

Have a story?

Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts  (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za

 Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms: 

 Follow us:

     

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button