Editor's noteLocal newsNews

VIDEO: Só oorbrug gestremdes hul struikelblokke

Die Herald het met drie inspirerende jong mense van die dorp gaan gesels oor hul gestremdheid.

Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede word op 3 Desember gevier.

Hierdie dag word gebruik om begrip te bevorder vir gestremdheidkwessies.

Die soeklig val op die regte van persone met gestremdhede en die integrasie van persone met gestremdhede in elke aspek van die politieke, sosiale, ekonomiese en kulturele lewe van hulle gemeenskappe.

Dit verskaf ook ‘n geleentheid aan individue en gemeenskappe om deel te neem aan aktiwiteite wat daarop gemik is om ‘n inklusiewe omgewing (van mense met ‘n gestremdheid) te skep.

Alhoewel gestremdheid ’n moeilike proses is om te verwerk, is dit beslis nie iets wat Thinus van Staden onder sal kry nie.

Die 25-jarige man wat in Brenthurst woon is met spina bifida gebore, ’n aangebore afwyking waar die ruggraat en rugmurg nie behoorlik gevorm het nie.

Thinus se rugwerwels was gespleet met ’n groot opening in sy rug wat deur ’n chirurg herstel moes word.

Dit was egter vir Thinus se ouers, André en Leonora van Staden, ’n groter aanpassing en uitdaging as wat dit vir hom was.

“My ouers moes aanpassings maak met alles soos wat ek ouer geword het,” het hy vertel.

“As ons iewers heen wil gaan, verg dit baie beplanning en kan dit soms ure duur voor ek reg is om die huis te verlaat.

“Ek moes ook van ‘n baie jong ouderdom af gereeld vir fisio en operasies gegaan het, wat dit soms moeilik vir my ouers gemaak het.”

Nog ‘n uitdaging wat Thinus steeds in die gesig staar, is natuurlik mense se koppe wat draai wanneer hul hom in die publiek sien.

“Baie mense staar en sal soms eerder die persoon, wat saam met my loop, vra wat fout is in plaas daarvan om vir my self te vra.

“Dit gee my soms die indruk dat mense dink ek is dom of dat ek nie kan praat nie,” het hy bygevoeg.

Thinus voel ook baie sterk daaroor dat dit wel verkeerd is van ouers om vir hul kinders te leer om nie vrae te vra nie en liewer net aan te hou loop.

“’n Kind moet weet wat om hom aan gaan en opgevoed word oor die feit dat sommige mense nie normaal voorkom nie.

“Mense moenie gestremdhede as ‘n struikelblok sien nie,” het Thinus vertel.

Ten spyte van sy toestand het hy nog steeds ‘n positiewe gesindheid en het hy natuurlik groot lof vir sy ouers.

“My ouers het my geleer om my probleme altyd in die gesig te staar en dit uit te sorteer.

“Ek is nie groot gemaak om myself te bejammer en in sak en as te gaan sit nie en dis waar my positiewe houding vandaan kom,” het hy bygevoeg.

Alhoewel Thinus met gestremdheid worstel, is hy intelligent en was elke jaar van sy skoolloopbaan aan Muriel Brand Skool as die top presteerder aangewys.

Hy werk ook tans by Vodacom as ‘n werwer en reël werk vir ander mense binne die maatskappy.

Thinus vertel ook dat as daar een ding is waarop hy veral trots is, is sy deursettingsvermoë.

“Ek het op ‘n tyd baie gesondheidsprobleme gehad en in 2014 het ek drie keer amper my lewe verloor. Ek glo sterk dit was die Here wat my gedra het, aangesien ek ‘n groot Christen is.”

Juan-Marie van der Schyff (29) is met geboorte as serebraal gestrem gediagnoseer.

Juan-Marie van der Schyff is elke dag op haar pos en reg om goeie gehalte diens te lewer by die Brakpan Polisiestasie.

Dié Brenthurst inwoner was net kort voor 27 weke gebore en het ‘n skrale 900g geweeg.

Alhoewel haar gestremdheid ook maar sy uitdagings het, is dit tog vir haar normaal.

“Ek het goed presteer met sport op skool en lewe so normaal as moontlik met my gestremdheid,” het sy vertel.

“Dit is wel soms ‘n uitdaging om permanent van ‘n rolstoel afhanklik te wees, alhoewel ek ‘n gemotoriseerde rolstoel het.

“My grootste uitdaging is natuurlik by inkopiesentrums aangesien nie alle plekke rolstoelvriendelik is nie.

“Dit is ook ‘n groot uitdaging wanneer ‘normale’ gesonde mense rolstoelparkering gebruik asook rolstoelkleedkamers.

“Ek is ‘n buitelug mens wat mal daaroor is om te kamp, maar daar is ongelukkig min rolstoel-vriendelike vakansieoorde vir gestremdes beskikbaar,” het sy bygevoeg.

Juan-Marie het verder vertel dat sy altyd positief bly aangesien die lewe self vir haar ‘n groot seëning is.

“As mense soms nie weet hoe om my te hanteer nie, sal ek sommer ‘n grappie maak oor my gestremdheid sodat hulle nie ongemaklik moet voel nie.

“Ek bly ook positief deur ander gestremde persone te help en selfs ou mense.”

Juan-Marie het verder vertel dat haar kollegas by die werk haar positief hou aangesien hul haar nie as ‘n gestremde persoon sien nie, maar liewer as ‘n vriendin.

Juan-Marie is baie trots daarop dat sy ‘n werk het en beskou dit as ‘n groot sukses.

“Om te kan werk is vir my ‘n groot sukses aangesien mense met gestremdhede nie sommer werk kan kry nie.

“Ek het in 2010 as vrywilliger by die SAPD begin werk en in 2013 is ek as ‘n permanente werknemer aangestel en is tans die skakelbordoperateur.

“Ek het tot dusvêr baie lof gekry vir my voortreflike diens en hulpvaardigheid en het verskeie trofeë ontvang vir die beste gestremde presteerder van die jaar,” het sy vertel.

Nog ‘n inspirerende jong vrou van die dorp is Annerette Odendaal (35) wat ook met spina bifida gebore is.

Annerette, wat ‘n bloemis is, het ‘n groot passie vir blomme en die rangskikking daarvan.

Sy was tog gelukkig in die sin dat haar spiere nie so erg beskadig is nie, wat tot gevolg gehad het dat sy steeds die gebruik van haar bene het.

Aangesien sy die kondisie in haar lae rug opgedoen het, was slegs haar heupe geaffekteer wat veroorsaak het dat sy nie normaal kan loop nie.

Jaar na jaar, van ‘n jong ouderdom af tot met die ouderdom van 27, was daar aan die donkerkop geopereer.

Alhoewel sy nie normaal kan loop nie is dit beslis nie iets wat Annerette onder kry nie.

“Dit het my ouers baie meer geaffekteer as vir my. Ek was maar net ‘n kind en het nie regtig besef ek is gestremd nie,” het sy vertel.

“Ek het ‘n baie lekker kinderlewe gehad waar ek nog steeds kon geswem het en net ‘n kind kon wees.”

Volgens Annerette het dit haar slegs vir ‘n kort tydperk geaffekteer toe sy in ‘n normale skool was en hul besef het dat sy nie kon by hou nie.

“Dit het my wel gepla en ook dat die kinders nie altyd met my wou speel nie. Maar ek het ook verstaan dat hulle nie van beter weet nie en dat hul nie besef dat ek net ‘fisies anders’ is nie.

“Ek is die enigste kind en was gelukkig gewoond daaraan om alleen te wees, so dit het my ook nie vreeslik gepla nie,” het Annerette bygevoeg.

Tog is die jong vrou se vermoë sterker as haar gestremdheid en het sy ‘n sukses van haar lewe gemaak.

Sy het sowat 10 jaar gelede haar eie besigheid begin as ‘n bloemis en het floreer in die bedryf.

Dit is baie opvallend dat Annerette straal van positiwiteit en dat sy lus is vir die lewe.

Sy het dit duidelik gemaak dat dit alles te danke is aan haar persoonlike afrigter, Kenneth Dube, en natuurlik haar ouers, Dirk en Eileen Odendaal, wat ‘n groot impak op haar lewe gehad het.

“My ouers het my beslis positief gehou en ek het so baie geleer uit hulle goeie voorbeeld,” het sy vertel.

“Hulle het my geleer om altyd te werk vir wat ek wil hê en nie myself te bejammer nie.”

Annerette het ook groot lof vir haar persoonlike afrigter gehad. “Kenneth, wat al die afgelope 10 jaar ‘n mentor is, het ‘n baie groot impak op my lewe.

Hy het baie op my mentaliteit gewerk en motiveer my altyd.

“Hy het my nog altyd laat glo dat ek tot enige iets in staat is,” het sy vertel.

Alhoewel Annerette ‘n gestremdheid het, is sy onstuitbaar en neem tans dansklasse by Rhythm and Beat-dansskool in die dorp.

Sy beskou haar dans as haar grootste sukses waarvoor sy so dankbaar is, aangesien dit iets is wat sy vir haarself doen.

Die sprankelende jong vrou is ook deel van die nie-winsgewende inisiatief, die Role Models Foundation, wat haar toelaat om terug te gee aan die gemeenskap.

Sy gebruik dié platform om liefdadigheidswerk te doen. Annerette bly ook positief deur om by die volgende leuse te lewe.

“Ek is ‘n onstuitbare vegter wat sterk en vreesloos is. Ek lewe met moed en deurnis in my hart en dra my selfvertroue soos ‘n skild teen alle negatiwiteit.

“Ek is kragtig en is trots op wie ek is en wat ek doen. Ek word elke dag wakker met ‘n positiewe gesindheid, reg om die wêreld aan te vat, want ek is op ‘n missie om my doelwitte te bereik en niks en niemand sal my kan keer nie,” het sy met groot entoesiasme beklemtoon.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 
 
 

Related Articles

Back to top button