Hawelose maak hom tuis op graf

Gevra of hy nie skrikkerig of bang is om in die grafsteen te woon nie, sê hy beslis nee.

 ’n Hawelose man wat vir homself ’n tuiste in ’n mausoleum-tipe graf in die Brakpan begraafplaas geskep het glo dat hy die volste reg het om daar te woon.

Die teenwoordigheid van die man in die begraafplaas is onlangs onder die Herald se aandag gebring en by nadere ondersoek is daar vasgestel dat hy al sowat twee maande lank binne in ’n gedeelte van die grafsteen woon.

Die indrukwekkende massiewe grafsteen het ’n graniet tafel en vier graniet stoele op die plat gedeelte van die graf en dan is daar ’n groot toegeboude gedeelte waarin ’n volwassene maklik regop kan staan. Daar is ook ’n graniet tafel in dié gedeelte.

Dit is in hiérdie area waar die man, wat homself as Nicolas Masha (29) voorgestel het, homself tuisgemaak het.

Hy kon geen identiteitsdokument of ander vorm van identifikasie toon nie en sê dat sy ID-boekie al jare gelede gesteel is.

Sy bed met ’n pienk kussing en verskeie ander items, soos messe en vurke, leë bottels en emmers, is ’n duidelike aanduiding dat hy in die grafsteen woon.

Daar is ook ’n deur wat toegang gee tot die gedeelte waar die man woon en hy vertel dat hy die deur gewoonlik toe hou aangesien hy nie graag gesien wil word nie.

Op die vraag oor waarom hy daar bly het Masha gesê dat hy geen heenkome het nie en ook nie ’n werk nie.

Hy vertel in detail hoe hy aangerand word as hy op straat bly en dit het hom laat besluit om sy blyplek in die begraafplaas te maak.

Vreemde voorwerpe soos dié “figuur” is op die graf te sien. Die hawelose man het verduidelik dat hy dit daar geplaas het en hy noem dit Freddy.

Hy sê ook dat hy groot respek het vir die familie van die oorledenes en ook vir die mense wie se oorskot in die graf is. Die name van ten minste sewe oorledenes word op verskeie plekke op die grafsteen aangedui.

Hy vertel ook dat hy toestemming het van die naasbestaandes en dat hulle selfs vir hom kos bring.

Die man praat onsamehangend en aanhoudend en vertel dat hy al “gesterf” het as Hitler, John F Kennedy en Armstrong. Hy vertel ook dat hy op die maan saam met Armstrong was.

Masha verwys gereeld na die Brakpan SAPD en sy ewige stryd met howe reg oor die land.

Koerantuitknipsels is teen die mure van die grafsteen geplak.

Gevra of hy nie skrikkerig of bang is om in die grafsteen te woon nie, sê hy beslis nee.

“Ek is nie bang is vir dooie mense nie, maar ek het respek vir dooie mense.”

Volgens hom is hy eerder waaksaam vir lewendige mense.

Hy vertel dat hy onlangs aangerand is deur persone wat die graf in die aand besoek het en hom daar aangetref het.

“Hulle het my op my mond geslaan,” het hy gesê.

Hy vertel dat hy geen inkomste het nie en dat hy na voedingskemas in die dorp gaan om kos te kry om te eet.

Gevra of hy besef dat dit onwettig is om in die begraafplaas en boonop op ’n graf te bly het hy ’n ellelange verduideliking.
Om te probeer sin maak van sy verduideliking is egter ’n onbegonne taak.

Verskeie items wat aan Nicolas Masha behoort is op die graniet tafel, wat op die grafsteen is, te sien.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 
 
 
Exit mobile version