Editor's choiceLocal newsNews

VivA stel gratis aanlyn lees-en-luisterbiblioteek bekend

VivA hoop om uiteindelik ʼn groot aantal tekste in die biblioteek te hê waarmee jong lesers en volwasse taalaanleerders Afrikaans in sy volle omvang sal kan ontdek sodat hulle nie net ʼn liefde vir lees nie, maar ook ʼn begrip vir die geskrewe woord sal ontwikkel

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 30 September sy nuwe gratis en aanlyn lees-en-luisterbiblioteek bekendgestel.

Sophia Kapp, senior adviseur by VivA, het gesê die projek is van stapel gestuur na aanleiding van gesprekke met onderwysers oor leerders se gebrekkige leesvermoëns en onrusbarende statistiek oor die afname van leesvaardighede onder eerstejaarstudente.

Dit is alles tekens dat jongmense se blootstelling aan die Afrikaanse skrifbeeld aan die kwyn is.   Die allerbelangrikheid van goeie leesvermoëns kan nouliks oorbeklemtoon word. “Jong leerders, en selfs hulle ouers, meen dikwels dat die tegnologiese ontwikkelinge wat ons die afgelope 30 jaar beleef het ons in ʼn digitale eeu plaas waarin lees nie meer ʼn rol speel nie.

Intussen is die oorwig inligting wat ons in ʼn digitale omgewing kry steeds in taal vasgevang,” het Kapp gesê. “Die lees van ʼn teks op ʼn rekenaarskerm in plaas van in ʼn papierboek verg presies dieselfde leesvaardigheid. Leerders wat nie kan lees nie kan geen vakinhoud behoorlik bemeester nie, want selfs vakke soos wiskunde, musiek, drama en tegnologie vereis van leerders om groot dele van die vakinhoud in die vorm van geskrewe teks te bemeester.

“Afgesien van die gewone probleme wat leesonvermoë ʼn jong leerder besorg, is daar sekondêre probleme soos onkunde oor die wêreld waarin ons leef, ʼn gebrekkige woordeskat en uitdrukkingsvermoë en onkunde oor die verband tussen die klank- en skrifbeeld van ʼn taal.

Lees: Pieter Smith en Christo Snyman bring hulde aan Groep 2 in Lefra Kelderkonsert

“Mense wat nie lees nie sukkel gewoonlik ook om te spel, omdat hulle nie op ʼn vermaaklike en gemaklike manier die taal se spelpatrone ontdek het nie. “En dis hierdie leemte wat die lees-en-luisterbiblioteek beoog om te vul.” Kapp het gesê elke groep tekste is in vaardigheidsvlakke ingedeel, van heel beginners waar die klank by elke woord gepas word tot romans wat net voorgelees word.

“Die belangrike eienskap van die tekste in die biblioteek is dat die klank- en skrifbeeld saam aangebied word. ʼn Gebruiker wat na die teks luister, sien dus ook terselfdertyd die skrifbeeld en die verband tussen klank en spelling word duidelik gemaak.

“Hoewel die nuus oor die projek groot opgewondenheid veroorsaak het, was dit ook verbasend moeilik om tekste daarvoor te kry. Ons het by verskeie uitgewers gaan aanklop om samewerkingsooreenkomste te sluit, maar kopieregwetgewing het ons gefnuik. “Die feit dat ons die materiaal gratis beskikbaar stel, het ook ʼn stok in die wiel veroorsaak, want uitgewers moet geld maak om te oorleef,” het Kapp verduidelik.

“Uiteindelik moes VivA op die goedheid van ons Afrikaanse skrywers staatmaak. Tekste van groot name soos Fanie Viljoen, Christien Neser, Francois Bloemhof, Eben Venter, Elsa Winckler, Marion Holm, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Kristel Loots, Peet Venter en Reinette Lombard van Tippie-faam is gebruik. Professionele stemkunstenaars soos Marion Holm, Karin Hougaard, Esmarie Yssel en Altus Venables het gehelp met stemopnames.

“Ons hoop om uiteindelik ʼn groot aantal tekste in die biblioteek te hê waarmee jong lesers en volwasse taalaanleerders Afrikaans in sy volle omvang sal kan ontdek sodat hulle nie net ʼn liefde vir lees nie, maar ook ʼn begrip vir die geskrewe woord sal ontwikkel,” het Kapp bygevoeg. Gebruikers kan op https://viva-afrikaans.org registreer om toegang tot die platform te verkry. Stuur gerus ’n e-pos na navraag@viva-afrikaans.org vir meer inligting.  

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button