Bome val na ‘n stormwind deur die dorp trek

Kragpale het op plekke omgeval en groot dele van die dorp is ook sonder krag gelaat.

’n Verwoestende windstorm, met gepaardgaande reën en hael, het laat Sondagmiddag deur die dorp getrek en gesorg dat talle bome uit die grond geruk is.

’n Inwoner van Brenthurst, Pieter Erwee (87), was in die slaapkamer van sy huis in Pienaarstraat toe ’n massiewe boom in sy erf omgewaai is.

Volgens Pieter was daar ’n oorverdowende slag en het hy baie groot geskrik.

“Ek en my honde was reeds in die slaapkamer toe daar skielik ’n groot slag en ’n suis geluid was,” het hy vertel.

“My honde het so groot geskrik dat hul sommer onder die bed gaan wegkruip het.

“Die stof het orals deur my huis se vensters en deure getrek,” het hy bygevoeg.

Inwoners van onder meer Brakpan-sentraal en Dalview het ook skade gelei.

Talle bome, soos dié een in Dalview, is Sondagmiddag laat omgewaai.

Ironies genoeg het die Metro verlede week ’n persverklaring uitgereik waarin inwoners gemaan word om nie die bome op hul sypaadjies self te sny of te verwyder nie (Die berig is op die Herald se webtuiste gepubliseer – Do not remove or prune municipal trees).

Die DA raadslid vir wyk 97, Brandon Pretorius, het gesê dat minstens vyf munisipale bome omgeruk is en in twee gevalle het die bome groot skade veroorsaak aan inwoners se huise, voertuie, asook ander persoonlike besittings.

“Sommige van die bome het op kragdrade geval en was die oorsaak van grootskaalse kragonderbrekings in die dorp,” het Pretorius gesê.

Munisipale werkers het Maandagoggend hul hande vol gehad om herstelwerk te doen. Hierdie kragpaal op die hoek van Highstraat en Derbylaan het omgewaai.

“Die beste van alles is dat meeste van hierdie bome al aan die parke afdeling gerapporteer was en indien daar aksie geneem is deur die parke afdeling sou die groot verwoesting wat gesaai is minder wees of selfs verhoed kon word,” het Pretorius bygevoeg.

“Ek verstaan die noodsaaklikheid van bome, maar ek kan ook met sekerheid sê dat daar die afgelope vyf jaar geen instandhoudingswerk gedoen is wat bome aanbetref nie.

“Daar word wel ’n uitsondering gemaak wanneer die burgemeester die dorp besoek, dan word die bome in die hoofstrate versorg.

“Inwoners se klagtes val op dowe ore en dieselfde ou deuntjies word gesing,” het Pretorius gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Exit mobile version