Editor's noteLocal newsNews

KYK: Brandweer wa weer reg vir baie myle

Die pompe op die brandweerwa is herstel en die wa het ’n goeie skoonmaak gekry.

Die bekende rooi 1934 Dennis Brandweerwa wat die koppe laat draai waar ook al dit gaan, sal voortaan sonder enige probleme die strate kan invaar danksy herstelwerk wat onlangs aan dié geskiedkundige wa gedoen is.

Die brandweerwa wat donkiejare gelede aan die Johannesburgse Stadsraad behoort en tot die redding van menige mense gekom het, het sowat 10 jaar gelede nuwe lewe gekry nadat lede van die Just Wheels Motorklub van die bestaan daarvan te hore gekom het.

Die wa was vir meer as 30 jaar gestoor by die duikklopper onderneming van Koos Coetzee en sy vennoot Sue Vermaak. Koos is ’n inwoner van Dalpark 1.

Dit is nagenoeg 10 jaar gelede onder die stof uitgehaal en in so ’n mate herstel dat die publiek dit in 2012 by die tweede Just Wheels Motorskou kon bewonder.

https://www.facebook.com/justwheelscarclub/videos/pcb.3263040890440554/340694660545220/

Die statige ou wa was onmiddellik ’n treffer en het daarna ’n trekpleister by vele motorskoue en fondsinsamelingsprojekte geword.

Dit is selfs verlede jaar ingespan tydens die begrafnisdiens van die oorspronklike bestuurder daarvan.

Soos dit maar met enige ou voertuig gaan het die jare egter sy tol geëis en is die brandweerwa onlangs onder hande geneem deur die kundige werknemers van Corair, wat takke in Springs en Kemptonpark het.

Om die herstelwerk aan die ou brandweerwa te doen was ‘n lekker uitdaging vir die span van Corair.

Mede-eienaars van die besigheid Henry Espach en Bazil en Ike Marais het gesorg dat die bedrading van die wa oorgedoen word en dat die nodige meganiese opknappingswerk ook gedoen is.

Die sirene se skakelaar is op die paneelbord aangebring en ’n splinternuwe sirene is geïnstalleer.

Die pompe op die brandweerwa is ook herstel en die wa het ’n goeie skoonmaak gekry.

Henry en Bazil, wat betrokke is by die Just Wheels Motorklub, het gesê dat die herstelwerk ’n lekker uitdaging was.

“Weens die aard van ons besigheid kon ons dit egter doen en ons weet dat die brandweerwa nou weer ingespan sal word by fondsinsamelingsprojekte, iets wat ons na aan die hart lê,” het Henry gesê.

Lilly Coetzee (47), dogter van die eienaar Koos, is die gereelde bestuurder van die Dennis en sy het daardeur ook erelidmaatskap van die Just Wheels Klub ontvang.

“Dit het ’n rukkie geneem om daaraan gewoond te raak om die brandweerwa te bestuur aangesien daar nie kragstuur is nie en die ratte ook nie so maklik verwissel nie,” het Lilly vertel.

Die agterkant van die Dennis, waarvan die ou oorspronklike nommerplaat ook behoue gebly het.

Sy het egter nou die taak bemeester en waar sy ook al met die Dennis opdaag is daar gewoonlik groot belangstelling.

“Ek is al gewoond daaraan dat mense ons voorkeur om foto’s te neem, maar dit is ’n stukkie geskiedenis en ek gee nie om nie.”

Sy vertel dat ’n persoon die brandweerwa ongeveer 30 jaar gelede na haar pa se duikklopper onderneming, Knockers Panel Beaters, geneem het om te laat restoureer.

“Dié persoon het egter geëmigreer en dit sou te duur wees om die brandweerwa saam te neem. Dit is toe aan my pa en sy vennoot geskenk,” het Lilly vertel.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button