Onderwyser roep halt na 26 jaar by die Laerskool Môrewag

“Ek wil my kollegas alle voorspoed toewens. Ses-en-twintig jaar is ‘n lang tyd en dit het tyd geraak om te groet.”

‘n Departementshoof van die Laerskool Môrewag het Woensdag na 26 jaar diens aan die skool haar kollegas en leerders gegroet.

Melinda Wydeman (59) het vir ‘n kwart dekade elke oggend deur die skoolhek gery om te doen waaroor sy baie lief was.

“Die skool en die mense hier het my familie geword. Ek gaan die kinders beslis die meeste mis. Dit is baie besonders om deur ‘n kind gegroet of gedruk te word.

“Die waardering wat die kinders deur die jare vir my gehad het, sal my altyd bybly,” het Melinda in ‘n onderhoud met die Herald gesê.

Sy het in 1983 begin skoolhou aan die Laerskool Turffontein waar sy vir vyf jaar werksaam was.

Na ‘n onderbreking van twee jaar het sy in 1994 by die Laerskool Môrewag aangesluit.

Sy is die afgelope ses jaar ‘n departementshoof in die grondslagfase en was in die vier jaar voor dit in ‘n waarnemende hoedanigheid in die pos.

Sy sou aanvanklik eers volgende jaar die tuig neerlê maar dié stap is so effens versnel deur persoonlike omstandighede.

“My skoonma, Jeanne Weydeman (87), woon in Groot Brakrivier. Ons bring al vir baie jare elke Desember daar deur en ons hou van die plek.

“My skoonma se gesondheid is nou van so ‘n aard dat sy ons nou daar nodig het.”

Melinda en haar man Lourens (66) sal, sodra hul sake hier afgehandel is, die pad Groot Brakrivier toe aanpak en dit hul nuwe tuiste maak.

Lees: Dalview onnie groet na 37 jaar

Die egpaar het twee seuns, Louwtjie (29) en Japie (31), asook twee kleinkinders.

“Ons kinders bly agter, maar hulle sal gereeld vakansietye by ons kom kuier,” het Melinda gesê.

Sy vertel dat haar jare by die Laerskool Môrewag haar net met goeie herinneringe laat.

“Vanjaar het beslis nuwe uitdagings gebring, maar dit was tog ‘n interessante jaar waaruit ek baie geleer het.”

Sy dink ook terug aan hoe die onderwys deur die jare ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het.

“Gelukkig het ek nog nooit ‘n probleem gehad met verandering nie. Die uitdagings was lekker. Dit het my gestimuleer. Wanneer alles dieselfde bly, stagneer ‘n mens,” het Melinda gesê.

Vir haar het dit egter altyd oor die kinders gegaan.

“En dit is waarom ek ook sê dat ek juis die kinders die meeste gaan mis.

“Ek gaan beslis ook die netbal toere, sportbyeenkomste en ons skool se revues mis. Daar was baie hoogtepunte.

“Ek wil my kollegas alle voorspoed toewens. Ses-en-twintig jaar is ‘n lang tyd en dit het tyd geraak om te groet.”

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version