Dalview onnie groet na 37 jaar

Susan het nie net die talent van 'n onderwyser nie, maar deel ook 'n passie vir skryf.

’n Onderwyser aan die Laerskool Dalview, Susan Greyvensteyn (60), sal binnekort die tuig neerlê.

Dié Dalpark Een inwoner, wat al vir die afgelope 37 jaar haar plek in die klaskamer volstaan, se loopbaan het by die Laerskool Dalview begin en sommer daar geëindig ook.

Sy vertel dat dit haar laer- en hoërskool onderwysers was wie haar geïnspireer het om ‘n beroep in die onderwys te volg.

“Ek was in uitstaande skole met uitgesoekte onderwysers waar Anne Stander, Jan van Heerden en Peet le Roux om ‘n paar te noem, my rolmodelle was.

“Dit kon nie anders as die onderwys nie,” het Susan gesê, wat al vir jare in die dorp woon.

Dié talentvolle onderwyser was gek daaroor om Afrikaans asook drama en kuns as vakke aan te bied en dit was vir haar belangrik dat sy en die leerders van tyd tot tyd ook groot pret gehad het.

“Ek sal nooit die ‘Oscars’ vergeet wat ons in die drama klas in 2015 gedoen het nie.

“Dit was vier seuns wat Oscar Pistorius se saak gedramatiseer het.

“Elke keer wat hulle opgetree het was die teks anders, want hulle het sommer geïmproviseer wat dit skreeusnaaks gemaak het,” het Susan verduidelik.

Lees: Polisievrou gaan nou voltyds ouma wees

Susan het ook haar eie naskoolsentrum vir 30 jaar bedryf.

Alhoewel daar tog teleurstelling was toe die skool besluit het om die fasiliteit self te bedryf, glo Susan dat God altyd van beter weet.

“Die studente wat ek aangestel het by my naskoolsentrum het ook ‘n massiewe rol in my onderwysloopbaan gespeel.

“Hulle het my geleer om gereeld te vernuwe en by moderne sienings aan te pas, veral op die gebied van tegnologie.”

‘n Hoogtepunt vir Susan van haar loopbaan is elke keer as ‘n leerder ‘n kollega geword het.

“Ek het groot respek vir Zuné Grobler, Mariska Schoeman en Mischelle Geldenhuys wat nou saam met my Afrikaans gee.”

Susan het nie net die talent van ‘n onderwyser nie, maar deel ook ‘n passie vir skryf.

In haar vroeër jare wou sy graag ‘n kopieskrywer geword het, maar is tog dankbaar dat haar lewenspad anders uitgedraai het.

Na sy die tuig neergelê het, beplan sy om haarself besig te hou met naaldwerk saam met haar vriendin en medekollega, Wilma Rademan.

“Ons moes op ‘n stadium ophou daarmee omrede die onderwys te veeleisend geword het, maar nou gaan ons dit beslis weer geniet.”

Susan beplan ook om soveel moontlik kwaliteit tyd saam met haar man Leon (71), asook haar drie kinders Lourika Venter (41), Willem Greyvenstein (35) en Marna le Roux (33) en haar agt kleinkinders te spandeer.

“Ek en my man wil die land gaan verken en ‘n mens se kleinkinders bly ook net so lank klein,” het Susan gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

 

Exit mobile version