Oud Stoffie is ‘n wynmaker van formaat

Al 2020 se witwyne is onder haar leierskap gemaak.

Eikendal, die bekroonde Stellenbosch wynkelder, het onlangs ‘n nuwe era ingelui met die amptelike aanstelling van Maryke Botha as wynmaker.

Maryke is ‘n oud-leerder van die Hoërskool Stoffberg wat in 2006 aangewys is as die veelsydigste matrikulant.

Sy was ook onderhoofdogter in haar matriekjaar.

Sy was tot onlangs Nico Grobler, die keldermeester, se assistent.

Nico vertrek na 11 jaar om sy eie wyn-projek te ontwikkel.

Maryke span die kroon op haar bevordering met ‘n goue medalje vir die Eikendal Rosé 2020, die eerste wyn wat sy as solo wynmaker vrystel.

Dié toekenning is by die onlangse Gilbert en Gaillard Internasionale Uitdaging aangekondig.

“Ons waardeer Nico se reuse bydrae tot Eikendal en wens hom alle voorspoed toe met sy nuwe avontuur,” het Chris Saager, wie se Switserse familie Eikendal sedert 1981 besit, gesê.

As uitvoerende hoof verantwoordelik vir sakebeheer asook buitelandse bemarking en verkope het hy bygevoeg dat die span opgewonde is om Maryke in haar nuwe rol te sien.

Lees: In die kollig: Leer vir Truzaan Niemand ken

“Ons is beïndruk deur haar persoonlikheid en vaardighede in die wingerde en kelder en dit is ‘n ware getuigskrif vir Nico se uitstekende mentorskap,” het Saager gesê.

Maryke het, net soos haar voorganger, haar loopbaan in 2016 as wynmaak-intern by Eikendal begin.

Sy het aanvanklik as oogkundige kwalifiseer, wat in sport-visie spesialiseer het.

Haar skuif Kaap toe het egter haar wyn-fassinasie vlerke gegee en sy het ‘n wynmaak-graad cum laude by Stellenbosch Universiteit behaal.

Onder Nico se voogdyskap was haar talent gou duidelik en sy het haar vaardighede verder geslyp met oeste by Domaine Lorenzon in Boergondië en DuMOL Wynkelder in die Russieserivier-vallei, Kalifornië.

Vanjaar se oes was die eerste wat sy as Eikendal se wynmaker afgehandel het.

Al 2020 se witwyne is onder haar leierskap gemaak.

Sy het ook die verantwoordelikhede vir Eikendal se 2019 rooiwyne en die vorige jaar se Eikendal Classique Bordeaux-versnit gedeel.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die wyn,” het sy oor die Eikendal Rosé 2020 gesê.

“Dit het die mooiste sweempie kleur, met ‘n ongelooflike geurprofiel: ‘n kombinasie van rooibessies, spookasem en rooswater met ‘n sagte, lewendige, vars en verfrissende suur.

“Eikendal se aanslag is sinoniem met Switserse kwaliteit en berus op aandag aan kleiner besonderhede,” het Maryke gesê.

“Die fokus begin in die wingerde en word deur noukeurige wingerdbou toegepas. Elke wingerdblok word in sy eie unieke manier versorg om die hoogste kwaliteit druiwe te verseker.

“Verskillende traliewerk en opleidingstelsels word soms op ‘n enkel-variëteit toegepas om te verseker dat die verlangde wynstyl met die minimum inmenging in die kelder verkry kan word.

“Ons wil graag die wyn in die druiwetrosse proe en dit deurdra sodat die terroir in die glas skitter.”

Eikendal is geleë in wat bekendstaan as die Goue Driehoek van uitmuntende wynkelders, net af van die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version