Editor's noteLocal newsNews

Kind kan nie terug skool toe weens tekort aan medikasie

As gevolg van Covid-19, skenk mense in die algemeen minder bloed

Selfs wanneer die land se skole weer heropen, sal ‘n 12-jarige leerder van die dorp nie haar reeds erg ontwrigte skooljaar dadelik kan hervat nie.

Dít is as gevolg van die feit dat noodsaaklike medikasie, wat sy maandeliks ontvang, nie op die oomblik beskikbaar is nie.

Simoné Wasserman het, weens ‘n kroniese siekte toestand, ‘n gebrekkige immuunstelsel wat tot gevolg het dat sy elke vier weke medikasie, wat Polygam genoem word, ontvang.

Hierdie medikasie word gebruik om die liggaam se natuurlike verdedigingstelsel (immuunstelsel) te versterk om sodoende die risiko van infeksie by persone met ‘n verswakte immuunstelsel te verlaag.

Die medikasie word vervaardig uit gesonde menslike bloed met ‘n hoë vlak van sekere teenliggaampies, wat help om infeksies te beveg.

Polygam kan van enige bloedgroep vervaardig word.

“Die groot probleem is dat daar nou nie voorraad van Polygam beskikbaar is nie.

“As gevolg van Covid-19 glo ek dat mense in die algemeen minder bloed skenk,” het Melani Wasserman (45), Simoné se ma, vertel.

“En wanneer mense nie bloed skenk nie kan die medikasie nie vervaardig word nie. Ek verstaan ook dat daar waarskynlik, as gevolg van die pandemie meer bloed as normaalweg benodig word, en dit help nie ons situasie nie,” het Melanie gesê.

Lees: Donate blood and make the world a healthier place

Volgens haar neem dit ‘n enorme hoeveelheid bloed om Polygam te vervaardig.

Simoné ontvang ‘n dosis Polygam een keer per maand. Sy word dan gewoonlik op ‘n Vrydagmiddag opgeneem en die proses is teen ‘n Saterdag voltooi.

Sy ontvang die behandeling sedert sy een jaar oud was.

“Ons het nie ‘n keuse nie, indien sy nie die medikasie ontvang nie het haar liggaam doodeenvoudig geen weerstand nie.

“Dit was nog nooit vir my nodig om haar uit die skool te hou nie, maar sy sal nie weer kan skool toe gaan alvorens sy nie die medikasie ontvang het nie,” het Melanie gesê.

Simoné Wasserman sal nie kan terugkeer skool toe alvorens sy die medikasie wat haar immuunstelsel versterk, ontvang het nie.

Simoné vertel dat sy self weet wanneer dit tyd raak vir haar medikasie want sy word dodelik moeg.

“Ek is in kontak met organisasies wat vir ons bystaan, maar daar is net nie voorraad nie,” het Melanie gesê.

“Ons het dit dus goed gedink om Simoné se omstandighede met die publiek te deel en sodoende mense aan te spoor om steeds bloed te skenk.

“Ek besef maar te goed dat mense dalk skepties is, maar dit is eintlik nou meer belangriker as ooit,” het Melanie gesê.

Die Suid Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) moedig mense aan om ten spyte van Covid-19, steeds bloed te skenk.

Die veiligheid van skenkers en die personeel is van die uiterste belang vir die SANBS en uitgebreide voorsorgmaatreëls is getref om die veiligheid van skenkers te verseker.

Alle persone wat skenkersklinieke besoek, word deeglik gekeur en enigeen wat griepagtige simptome of simptome van infeksies het, sal aangeraai word om die skenking te vertraag totdat die persoon gesond is.

Volledige inligting is by alle skenkingsklinieke beskikbaar.

Melanie beplan ook in samewerking met SANBS op 5 September ‘n bloedskenking geleentheid by die VC Spar in Dalview te hou.

“Ek vra mooi dat inwoners solank ‘n aantekening van die datum te maak,” het Melanie gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button