Kanker eis man slegs 28 dae na huwelik

Stanley was met kolonkanker gediagnoseer.

Slegs 28 dae nadat Stanley du Rand (49) en sy bruid, Vanessa (45), ewige trou aan mekaar beloof het, het die dapper man Sondagmiddag sy stryd teen kanker verloor.

Die egpaar het die dorp se verbeelding aangegryp toe hulle op 10 Mei die knoop deurgehaak het, op die dag voordat Stanley, wat ‘n stryd met kolonkanker gevoer het, in die hospitaal opgeneem sou word.

Die Herald het berig hoe die gemeenskap (en veral die Brakpan Radio Groep) alles in die stryd gewerp het om binne ‘n dag vir die egpaar ‘n sprokiestroue te reël. (Sprokiesdag eindig voor hospitaaldeur).

Die egpaar se spesiale dag was egter van korte duur, aangesien Stanley die dag na hulle huwelikseremonie by die hospitaal moes aanmeld vir behandeling.

Weens die Covid-19 pandemie kon hy geen besoekers ontvang nie en het Vanessa deurentyd in vrees gelewe dat sy die liefde van haar lewe nie weer sou kon sien nie.

Hul is egter ‘n tweede kans gegun toe Stanley na sowat ‘n week in die hospitaal toegelaat is om vir ‘n paar dae weer huis toe te gaan.

‘Ons kon darem weer vir so week bymekaar wees maar dit het steeds nie goed gegaan met Stanley nie en toe hy inmekaar sak is hy weer in die hospital opgeneem,’ het Vanessa vertel.

Stanley du Rand en Vanessa in gelukkiger tye.

Sy kon hom weer eens nie besoek nie.

‘Ek het egter Donderdag spesiale toestemming verkry om hom vir ‘n klein rukkie te sien, min wetend dat dit die laaste keer sou wees dat ons mekaar sien,’ het ‘n hartseer Vanessa gesê.

‘Dit was kosbare oomblikke waar ons darem nog met mekaar kon gesels ten spyte van die feit dat hy baie pyn verduur het.

‘Saterdag het ek probeer om telefonies met hom te praat maar dit het nie uitgewerk nie.

‘Sondagoggend het ek weer die hospitaal gebel en ek is meegedeel dat dit nie goed gaan met hom nie. Ek het dadelik toestemming versoek om hom te besoek.

‘Die hospitaal het my egter kort daarna gekontak en gesê dat dat ek so gou moontlik na die hospitaal toe moet gaan,’ het Vanessa vertel.

‘Ek het dadelik daarheen gery maar was ongelukkig te laat.

Stanley du Rand en Vanessa is op 9 Mei getroud, wetend dat hul geluk dalk van korte duur sou wees.

‘Stanley is ongeveer 12.10nm oorlede. Hy is in 2017 met kolonkanker gediagnoseer en na verskeie operasies, bestraling en chemoterapie het dit beter gegaan en was hy vir ‘n tydperk in remissie.

‘Die kanker het egter in September verlede jaar weer opgeduik en ook na sy lewer versprei.

‘Alhoewel ons dit almal verwag het, voel dit steeds onwerklik. Ten minste is hy nou verlos van die vreeslike pyn wat hy verduur het,’ het Vanessa gesê.

Sy het bygevoeg dat sy nie vir een sekonde spyt is dat sy seremonieel met hom in die eg verbind is nie.

‘Hy was my Bok (haar troetelnaam vir Stanley) en ek sal altyd lief wees vir hom, tot ons weer eendag sal ontmoet. Hy sal vir altyd in my hart leef,’ het Vanessa gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version