Editor's choiceLocal newsNews

Foto’s: Sprokiesdag eindig voor hospitaaldeur

Stanley is in 2017 met kolonkanker gediagnoseer.

‘n Inwoner van die dorp wat ‘n stryd voer met terminale kanker en volgens sy geliefdes basies op geleende tyd leef het Sondag, ‘n dag voor hy in die hospitaal opgeneem is, met die liefde van sy lewe getrou.

Om te trou was iets waaraan Stanley du Rand (49) en sy nuwe vrou, Vanessa (45), deurentyd gedink het, maar as gevolg van sy gesondheid, wat onlangs drasties agteruit gegaan het, is die troue vir eers op die agtergrond geskuif.

Eers nadat ‘n dokter Donderdag vir hom gesê het dat hy in die hospitaal opgeneem sal moet word en dat hy, as gevolg van die Covid-19 pandemie nie besoekers sal kan ontvang nie, het die planne vinnig verander.

Stanley is in 2017 met kolonkanker gediagnoseer en na verskeie operasies, bestraling en chemoterapie het dit beter gegaan en was hy vir ‘n tydperk in remissie.

Die kanker het egter in September verlede jaar weer opgeduik en ook na sy lewer versprei.

‘Stanley was sedert September tot Maart vanjaar op intensiewe behandeling, maar Donderdag het hy die nuus ontvang dat die behandeling nie gehelp het nie en dat die kanker verder versprei het,’ het David du Rand (48), Stanley se broer vertel.

Lees: Ouers van beseerde kind staar groot uitdaging in die gesig weens inperking

‘Die dokter wou gehad het dat hy Vrydag reeds by die hospitaal aanmeld waar hy gemaklik gemaak wou word, morfien sou ontvang en ook aarvoeding aangesien hy skaars meer kon eet,’ het Vanessa vertel

Stanley het egter besluit dat hy die naweek saam met sy geliefdes en vriende wou wees, moontlik vir die laaste keer.

‘Ons is ingelig dat hy geen besoekers by die hospitaal sal kan ontvang as gevolg van die Covid-19 pandemie en die streng reëls wat tans by hospitale geld nie,’ het Vanessa gesê.

‘Ek en Stanley het die Vrydagaand gesels oor die moontlikheid van ‘n troue en ons het besluit om dit te doen voordat hy Maandag opgeneem sou word.

‘Ons het gedink ons sou maar Sondag net ‘n klein intieme geleentheid by David se huis hê, maar dinge het baie gou verander toe Dominique Nolte (19), die vriendin van David se seun, Basie (23), van ons planne hoor

Stanley en Vanessa du Rand het ‘n mooi troukoek gehad, maar daar was ook ?n 50ste verjaarsdagkoek met ‘n visvang-tema vir Stanley.

“Sy het op die Brakpan Radiogroep vir hulp gevra en ons omstandighede verduidelik en vandaar was alles uit ons hande.

“Daar was soveel mense wat hulp aangebied het. Ons was heeltemal oorweldig deur almal se goedhartigheid,” het Vanessa gesê.

Mense het aangebied om haar naels, hare en grimering te doen.

Daar is vir haar ‘n rok, skoene, ‘n kousband en juwele gereël.

Daar was sjampanje, blomme, eetgoed, musiek en ‘n fotograaf.

Samantha Labuschagne, ‘n geleentheidskoördineerder, het ook hulp aangebied en gesorg dat David se stoep by sy huis in Dalview prentjiemooi versier word.

“Ons het ‘n baie mooi troukoek gehad en iemand het selfs vir Stanley ‘n 50ste verjaarsdagkoek gebak aangesien hy in Oktober 50 jaar oud sal wees,” het Vanessa gesê.

Die verjaarsdagkoek het ‘n visvang tema gehad aangesien Stanley dol is oor visvang.

Hy en David, wat ook sy boesemvriend is, het vir baie jare saam vis gevang en dit het vir hom groot genot verskaf.

Nog ‘n groot voorliefde van Stanley was motorfietse en hy het vir jare lank motorfiets gery.

“As gevolg van sy gesondheid kon hy dit nie meer doen nie, maar dit het hom nie verhoed om steeds saam met iemand te ry nie.

“Ook op ons troudag het motorfietsklubs gesorg dat hy ‘n onvergeetlike dag sou beleef,” het Vanessa vertel.

“Die Adullum-, Crusaders- en die Bad Boys-groepe het hom besoek en vir ritte geneem.  Daar is ook ‘n erewag van motorfietsryers buite in die straat gevorm ten tye van ons huweliksplegtigheid,” het Vanessa gesê.

Stephan du Toit (regs) van die Biker Boys was Sondag een van die talle motorfietsryers wat vir Stanley kom groet en moed inpraat het voordat hy Maandag in die hospitaal opgeneem is.

Die huwelikseremonie is deur ‘n klein groep intieme vriende en familie bygewoon.

Vir die egpaar was dit ‘n onvergeetlike dag, maar die nare waarheid het Maandagoggend aan hul deur kom klop toe Stanley by ‘n hospitaal in Kempton Park moes aanmeld.

“Ek en David het hom geneem en ons moes hom by die deur groet. Ons kon nie eens saam met hom tot by sy kamer gaan nie en ons mag hom ook nie besoek nie.

“Dit is hartverskeurend, want ons weet nie of daardie ons finale groet was nie.  Net die tyd sal nou leer,” het Vanessa gesê.

Sy het darem Maandagaand laat met hom gepraat toe sy hom uiteindelik op sy selfoon kon kontak.

“Ja, ons dag was Sondag baie spesiaal, maar dit was ook van korte duur. Nou kan ons maar net hoop en bid,” het Vanessa gesê.

Sy het spesifiek gevra dat David, Dominique, die motorfietsryers, lede van die Brakpan Radiogroep en elke persoon wat gehelp het om hul dag ‘n onvergeetlike een te maak hartlik bedank word.

Meer foto’s:

https://www.citizen.co.za/brakpan-herald/231824/sprokiesdag-eindig-voor-hospitaaldeur-2/

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button