In die Kollig

Leer vir Nachalee Creser ken.

Nachalee Creser (14), ‘n leerder aan Hoërskool Die Anker, het onlangs die Mr and Miss Premier Model Supreme Model-kompetisie gewen. Sy woon saam met haar ouers, Donovan (43) en Natasha (38) Creser, asook haar ouer broer Dawerin Creser (17), in Springs.

Jy het onlangs die Mr and Miss Premier Model Supreme Model-kompetisie gewen. Vertel meer van die aand en wat die titel vir jou beteken?

Die kompetisie was aangebied deur Cecilia Marie van Eeden van Younique Model Academy, waar ek tans ‘n model is.

Die dag het dol begin aangesien ek om 8vm nog netbal in Pretoria moes speel en 10vm moes ek in Kempton Park wees vir die kompetisie. Deur die gejaag met kostuums, grimering en hare, het ek darem ook tyd gehad om myself terdeë te geniet.

Dit is vir my ‘n eer om hierdie titel te dra. Die jong dames wat deelgeneem het, was pragtig. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.

Neem jy gereeld aan kompetisies van die aard deel of was dit ‘n eerste?

Ek het aan die begin van Julie 2019 modelwerk begin doen en ‘n liefde daarvoor ontwikkel.

Mr and Miss Premier Model Supreme 2020 was die eerste kompetisie waaraan ek hierdie jaar deelgeneem het.

Ek het in 2019 aan Younique Modelling Academy interne model kompetisie (wenner), Miss Golden Glamour Star Supreme (derde prinses en fotografiese toekenning), Miss Rainbow Nations (eerste prinses,  nasionale titel), Miss Beach Body (wenner), Supreme Queen SA wenner, nasionale titel) asook Miss Teen SA (wenner, nasionale titel) deelgeneem.

Ek is ook in November 2019, deur my modelskool as algehele senior vroulike Model van die Jaar gekies.

Watter ander belangstellings en stokperdjies het jy?

Van my stokperdjies sluit drama, netbal, dans, redenaars en public speaking in.

Ek het ook gimnastiek gedoen en veral trampolien geniet. Omdat ek nie by alles kon uitkom nie het ek besluit om daarmee op te hou voordat ek hoërskool toe moes gaan.

Ek hou daarvan om op ‘n verhoog te wees, of dit nou is om ‘n gedig voor te dra of ‘n toneel te speel, ek geniet dit baie.

Met redenaars hou ek daarvan om mense te oortuig en my standpunt te gee. Ek hou daarvan om aktief te wees en geniet netbal.

Tussendeur al my stokperdjies geniet ek tyd saam met my familie en vriende.

Watter beroep beplan jy om eendag te volg?

Dit was altyd my droom gewees om ‘n dokter te word en mense te help, totdat modelwerk oor my pad gekom het. Ek wil graag verder gaan met modelwerk en dit as ‘n platform gebruik om liefdadigheidswerk te doen. Modelwerk is my passie.

Ek beplan om na matriek besigheidsbestuur te gaan studeer, omdat mens in vandag se wêreld goeie opleiding nodig het in enige beroepsrigting.

As jy die geleentheid kry, sal jy Suid-Afrika verlaat en in ‘n ander land gaan woon?

Absoluut, ek sal so geleentheid aangryp met albei hande. Die kennis en ondervinding van so geleentheid is uniek, maar Suid-Afrika sal altyd my huis wees en ek sal altyd terugkom en my kennis en ondervinding met my mense deel.

Is selfone ‘n euwel of die beste ding ooit?

As ‘n tipiese tiener kan ek nie regtig sê dat selfone ‘n euwel is nie. My foon is ook vir my ‘n hulpmiddel om inligting na te vors wanneer ek onseker is. Dit is ook ‘n manier om met my vriende en familie, wat ek nie elke dag sien nie, te kommunikeer. Die toekoms is tegnologie. Hoe jy dit hanteer is waar die verskil lê.

Wie is jou rolmodel en waarom?

Eerstens is dit my ouers omrede hul so hard werk en net die beste vir ons wil hê.

Tweedens is dit my modelafrigter, Cecilia Marie van Eeden, omdat sy die mooiste persoon van binne en buite is.

Derdens is dit ons huidige Mej Heelal, Zozibini Tunzi. Sy gee nie voor wie en wat sy is nie. Sy is wie sy is en wys haar ware kleure. Sy het met haar natuurlike hare aan die kompetisie deelgeneem as n simbool van haar vaste geloof in billike voorstelling van enige vorm.

Het jy enigiets nuuts van jouself geleer tydens die inperking?

Ja, dat tyd saam met familie en vriende baie kosbaar is. Tyd wat verlore gaan en tyd wat jy nooit weer terug kan kry nie. Ek het ook geleer om myself te dissiplineer om tyd te maak vir akademie en skoolwerk.

Waar sonder kan jy glad nie klaarkom nie?

My familie. Ek sou nie vandag wees of gekom het waar ek is sonder hulle nie. Hulle staan by my en ondersteun my met elke tree wat ek neem. My gesin gaan saam met my deur alles wat ek aanpak.

Lees: Model sit beste voetjie voor

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version